|

AfriForum sit stryd voort in Parys-diensleweringsaak, versoek implementering van hofbevel

Deur Ilze Nieuwoudt

AfriForum se stryd om gehalte dienslewering vir die mense van Parys, Vredefort, Heilbron en Koppies te verseker, is vandeesweek in die Hooggeregshof in Bloemfontein voortgesit. Die burgerregteorganisasie se dringende aansoek om ’n hofuitspraak in sy diensleweringshofsaak teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te laat implementeer hangende die munisipaliteit se appèl daarteen, is Woensdag (22 Oktober) egter weens die reuse-omvang daarvan van die dringende hofrol verwyder. Die saak sal nou later aangehoor word sodat die regter in dié saak genoeg tyd gegun kan word om die omvangryke stukke in hierdie saak wat reeds in 2024 begin is, kan bestudeer. 

Uitspraak gelewer, maar munisipaliteit sit steeds teë

Vandeesweek se verwikkelinge volg in reaksie op die deurslaggewende oorwinning wat AfriForum op 20 Junie vanjaar in die Bloemfonteinse Hooggeregshof behaal het, waartydens regter J.P. Daffue bevind het dat die Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners nakom nie. Hy het as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. In reaksie hierop het die munisipaliteit ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien, maar nadat dit op 19 Augustus van die hand gewys is, het die munisipaliteit hom na die Hoogste Hof van Appèl gewend in die hoop om hierdie beslissing finaal omgekeer te kry.

Implementeer, terwyl munisipaliteit appelleer, vra AfriForum

Die Ngwathe-munisipaliteit se appélaansoekproses by die Hoogste Hof van Appèl kan jare neem om afgehandel te word, en hoewel die beslissing wat in Junie vanjaar gemaak is broodnodig is vir die inwoners van dié sukkelende munisipaliteit, kan nie beslissing nie sonder meer geïmplementeer word nie. 

In ’n poging om te verseker dat die noodsaaklike ingryping waarna die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit smag én waarop hulle geregtig is plaasvind, het AfriForum ’n dringende aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 gebring.

Hoewel die hof vandeesweek bepaal het dat die saak – weens die omvang daarvan – nie dringend aangehoor kan word nie, gaan AfriForum se regspan die saak nou weer op die rol laat plaas. Indien die aansoek suksesvol is, sal die uitspraak wat in Junie gelewer is, geïmplementeer kan word ongeag die Appèlhof-proses wat intussen voortgesit word.

Omvang te groot vir dringende beslissing

In sy uitspraak wat regter Daffue in Junie gelewer het, wys hy daarop dat AfriForum se aansoek in hierdie saak teen die Ngwathe-munisipaliteit ’n lywige 1 221 bladsye beslaan, terwyl die hoofde van betoog alleen meer as 120 bladsye lank was. Dié stelling bevestig die omvang van die stukke in AfriForum se saak wat daarop gemik is om toe te sien dat gehalte dienslewering vir die munisipaliteit se nagenoeg 135 000 inwoners gelewer word.

Dit is juis die omvang van hierdie aansoek wat regter Sharon Chesiwe vandeesweek genoop het om dit nie op dringende gronde aan te hoor nie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is AfriForum en sy regspan hoop op ’n gunstige uitspraak in sy artikel 18(3)-aansoek. “Die besluit om nie die aangeleentheid op ’n dringende basis aan te hoor nie wys dat die regter die erns, omvang en impak van hierdie saak gewigtig genoeg ag om dit indringend te ondersoek,” verduidelik sy. “Dit is geensins ’n oorwinning in Ngwathe se guns soos wat die munisipaliteit nou in die media dit wil laat blyk nie. Hul waninterpretasie van die hof se besluit dui op ’n onkunde oor die regsproses,” verduidelik Pretorius.

Vergeet van politiek, lewer diens!

Die Ngwathe Citizens Forum, ’n groep wat luidens mediaberigte bankvas agter die munisipaliteit se burgermeester en munisipale bestuurder staan, het AfriForum vandeesweek geëtiketteer as “selfsugtige buitestaanders” wat deur “politiek aangevuur word”. Hulle voer onder meer ook aan dat “dit nie vir hulle [AfriForum] gaan oor dienslewering nie – dit is blote politiek”.  

Pretorius maak hierdie uitlatings af as opportunisties. “AfriForum was nog nooit ’n politieke party gewees nie en het ook geen dergelike aspirasies nie. Ons ideaal is juis om werklike verandering te weeg te bring en wanneer dit by munisipale aangeleenthede kom te help toesien dat inwoners die dienste ontvang waarop hulle geregtig is. AfriForum het geen belang by die stryd om politieke mag nie,” verduidelik sy.

In teenstelling hiermee klou die Ngwathe-leierskap – onder burgermeester Victoria de Beer-Mthombeni en die munisipale bestuurder, Futuli Mothamaha – verbete vas aan hul mag in hierdie munisipaliteit. Hulle werp volgens Pretorius alles in die stryd om hierdie mag te behou en verspil intussen duisende rande op ’n appèlproses, terwyl dié fondse veel eerder op die verbetering van dienslewering hier bestee kon word.

“Ondanks die munisipaliteit se bewerings dat dienslewering hier nou vlot verloop, trek inwoners steeds swaar. Daar is steeds daagliks inwoners wat sonder water en krag moet klaarkom en die munisipaliteit het nie eens die toerusting om sekere kritieke funksies te vervul nie. Die Parys Crater Street Mile, ’n prestige sportgeleentheid wat hierdie naweek in Parys aangebied word, het die munisipaliteit se ernstige tekortkominge weer beklemtoon. Die munisipaliteit het nie eens die teer of toerusting gehad om slaggate op hierdie roete te herstel nie; AfriForum het dit voorsien,” luidens Pretorius.

“Daar wag beslis ’n verrassing op die munisipaliteit as hulle dink dat die saak nou verby is. AfriForum is vasbeslote om geregtigheid te laat geskied vir die mense van Parys en die ander dorpe in hierdie munisipaliteit en ons sit hierdie stryd met ywer voort,” sluit sy af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik