AfriForum se strewe om gemeenskapsveiligheid te bevorder bring Durbanville-vroue byeen
AfriForum se Durbanville-tak het die afgelope naweek, in vennootskap met die Denis Dunn-beleggersklub, ’n kragtige damesgeleentheid by die Durbanville-gholfklub aangebied waar die fokus op vroueregte was, die invloed van konflik op kinders en praktiese strategieë om trauma en onreg aan te spreek in ’n tyd waarin gesinne toenemend kwesbaar is. Die sprekers, onder wie een van AfriForum se eie, het insigte gebied oor die uitdagings wat vroue en kinders in gebroke huishoudings in die gesig staar, maar ook hoop gebring deur hul kundigheid en praktiese raad te deel.
Adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n realistiese blik gegee op die agteruitgang van die strafregstelsel, veral in sake wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld. Sy het benadruk dat slagoffers dikwels oningelig is en dat die stelsel selde slagoffers se regte prioritiseer.
Met meer as 22 jaar se ervaring as staatsaanklaer, het Vorster praktiese insig gebied in hoe vroue hulself kan bemagtig, regtens én emosioneel en in die aangesig van mishandeling, manipulasie en ’n regstelsel wat dikwels nie sy verpligtinge teenoor slagoffers nakom nie.
“Vroue moet oorleef, sterk staan en die regte voorbeeld vir ons kinders uitleef,” het Vorster gesê. “Ons kan nie langer net bewusmaking doen sonder optrede nie. Ons moet leer, optree en mekaar ondersteun, want elke stem wat stilbly, gee ruimte vir die volgende oortreder.”
Dr. Rosa Bredenkamp, mediese dokter en stigter van Women for Change, het die vroue toegespreek met ’n spesiale fokus op die psigologiese impak van konflik op kinders. Sy het benadruk dat kinders nie net slagoffers is van wat gebeur nie, maar ook gevorm word deur wat hul ouers voorleef. “Ons kinders kyk. Hulle leer deur wat hulle sien. En hulle dra dit saam in hul toekoms in,” het sy gewaarsku.
Danel Snyman, ’n arbeidsterapeut, het verduidelik hoe onverwerkte trauma manifesteer as gedragsuitdagings, angs en selfs selfverwyt by kinders wat geweld in die huis aanskou. Sy het ouers en gemeenskappe aangemoedig om trauma te erken, te benoem en aktief te verwerk.
“Ons leef in ’n tyd waar vroue dikwels stilbly uit vrees, onkunde of afhanklikheid,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus. “Maar wat AfriForum met hierdie geleentheid wou wys, is dat kennis mag is en dat vroue toegerus moet wees om nie net die stelsel te navigeer nie, maar dit verantwoordbaar te hou. Hierdie was nie net ’n geleentheid nie, dit was ’n strategie vir hoop.”
Ferreira sê AfriForum se betrokkenheid by die stryd teen geslagsgebaseerde geweld is nie net simbolies nie, maar prakties gerig deur regsadvies, ondersteuning aan slagoffers en die blootlegging van ’n stelsel wat al te lank onverskillig is teen die kwesbares in die samelewing.
As deel van die Durbanville-tak se deurlopende strewe tot gemeenskapsveiligheid en selfbemagtiging, beplan AfriForum om in Augustus selfverdedigingsklasse vir vroue aan te bied. Die fokus sal wees op basiese tegnieke, bewusmaking van omgewingsrisiko’s en hoe om met selfvertroue op te tree in verskillende situasies.
Klik hier om betrokke te raak by AfriForum se tak in Durbanville.