|

AfriForum se nuwe spoorsnykursus open wêreld van moontlikhede in landelike veiligheid

Deur Ilze Nieuwoudt

Die ernstige tekort aan kundigheid en kapasiteit in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sowel as by ander veiligheidsrolspelers het dit vir AfriForum se veiligheidstrukture duidelik gemaak – die behoefte aan goed opgeleide spoorsnyers is groot én dringend. Nie net ontbreek die kundigheid nou al so te sê geheel en al by polisielede nie, die SAPD se honde-eenhede wat eens puik spoorhonde opgelewer het, se vermoë is nou uiters verskraal. Juis daarom het AfriForum se opleidingskenners die afgelope ses maande ’n unieke spoorsnykursus in samewerking met ’n vooraanstaande spoorsnyer met sowat 50 jaar se spoorsnyervaring, ontwikkel.

Dié pasgemaakte kursus is verlede week vir die eerste keer aan ’n span van ses AfriForum-veiligheidspersoneellede aangebied en sal nou verfyn en gefinaliseer word om ook aan uitgesoekte lede van AfriForum se veiligheidstrukture aangebied te word.

Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder by AfriForum, het die kursus in samewerking met Francois van Dyk, ontwikkel. Volgens Van Dalen is die kursus daarop gemik om spoorsnyers op te lei om die spore van verdagtes in veral landelike misdaad – soos plaasaanvalle en veediefstal – en grensoorskrydings te vat én te hou sodat daar as deel van ’n geïntegreerde benadering met die hulp van operasionele magte arrestasies gemaak kan word. Om dié ideaal te bereik, word daar nou beoog om vanjaar minstens drie doelgemaakte kursusse aan te bied in die omgewing van brandpunte waar dié misdade hoogty vier. Intussen word daar ook reeds die ontwikkeling van ’n gevorderde spoorsnykursus en ’n intrukteurskursus in die vooruitsig gestel.

Links en regs: Francois van Dyk, instrukteur en meesterspoorsnyer, verduidelik elemente van spoorsny tydens ’n praktiese sessie,

Uit AfriForum se meer as 170 buurt- en plaaswagstrukture is daar in die afgelope twee jaar nagenoeg 270 protospanlede, oftewel gespesialiseerde reaksiemaglede, opgelei. Hierdie lede ontvang deurlopend spesialisopleiding wat hulle in hul onderskeie streke as reaksiespanne kan toepas in kritieke misdaadsituasies. Die nuwe spoorsnykursus sal juis vir dié lede aangebied word om in spanne van vier tot ses lede ingespan te word.

Van Dyk, wat sy vaardighede as spoorsnyer in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) geslyp het en vandag steeds betrokke is by spoorsnyopleiding elders in Afrika, het die eerste ses beginnerspoorsnyers oor ’n tydperk van vier dae onder hande geneem en die basiese beginsels van spoorsnywerk teoreties en prakties by die span ingeoefen.

Drie kernelemente van spoorsny, naamlik die volg van ’n grondspoor, lugspoor en tekens, word in dié kursus by nuwelinge ingeprent. Die naspoor van dié drie elemente word in kombinasie aangeleer, verduidelik Van Dyk. ’n Grondspoor verwys na ’n fisiese voetspoor of skoenafdruk wat op die grond waargeneem kan word, terwyl ’n lugspoor verwys na bewyse van ’n spoor elders in die omgewing, soos wat byvoorbeeld in gebuigde of geknakte gras opgemerk kan word. Laastens vertel die tekens, soos ’n bebloede verband, ’n patroondoppie of ’n klip wat duidelik verskuif is, op hul beurt ook ’n verhaal oor die spoor van verdagtes.

Dewet Ungerer wys na ’n sogenaamde grondspoor tydens ’n praktiese sessie.

Dit is hier, op die plaas Doornkloof, die bekende Vrystaatse Voortrekkerplaas in die Lindley-distrik, waar Van Dyk sy kennis rakende wat hy as ’n “kuns” bestempel, stuk vir stuk aan hierdie eerste span AfriForum-spoorsnyers oorgedra het. Verskeie soorte spore is oor uiteenlopende terreine gesimuleer en dan, met selfs net die basiese kennis van die drie kernelemente van spoorsny, is kursusgangers geleer hoe om hierdie spore oor lang afstande op te spoor, te identifiseer en te volg. En aangesien spoorsny in dié konteks juis in gevaarlike situasies na afloop van misdaad aangepak moet word, fokus Van Dyk in die opleiding ook op kwessies soos handseine (wat verseker dat spoorsnyoperasies in stilte kan geskied) en taktiese aspekte (soos hoe om tydens kontak met misdadigers die oorhand in ’n moontlike vuurgeveg te verkry).

Eienskappe soos goeie sig, goeie dieptepersepsie en omgewingsbewussyn, maar bowenal geduld is ’n voorvereiste vir ’n goeie spoorsnyer, benadruk Van Dyk, en hoewel nie almal noodwendig uitgeknip is om dié “kuns” te bemeester nie, is ure en ure se inoefening noodsaaklik vir elkeen wat dié taak aanpak.

“Hierdie kursus bied ’n praktiese, funksionele oplossing vir ’n werklike probleem waarmee gemeenskappe daagliks gekonfronteer word,” verduidelik Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum. “Deur hierdie vaardighede intern te ontwikkel, versterk ons AfriForum se vermoë om daadwerklik en doeltreffend op te tree in noodsituasies.”

Ure en ure se opleiding, inoefening en verfyning van dié kuns lê nou nog voor, maar die uiteindelike voordeel wat dié vermoë vir boere en ander gemeenskappe in landelike gemeenskappe gaan inhou, sal verseker dat dié “kuns” ’n meesterstuk sal oplewer.

Soortgelyke plasings