| |

AfriForum se nuwe spoorsnykursus ’n mylpaal vir landelike veiligheid

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het die afgelope week ’n belangrike mylpaal bereik met die aanbieding van die afskopkursus van sy nuwe pasgemaakte basiese spoorsnykursus. Hierdie kursus wat die afgelope ses maande in samewerking met ’n internasionaal gerekende spoorsny-instrukteur ontwikkel is, is daarop gemik op die ernstige tekort aan doeltreffende spoorsnyvermoë na afloop van plaasaanvalle, ander landelike misdade en grensoorskrydings te takel.

Die kursus is van stapel gestuur in reaksie op die gebrekkige vermoë van statutêre en privaat sekuriteitsinstansies om misdadigers se spore op te tel, te bewaar en op te volg. Spoorhonde is dikwels onbeskikbaar, en selfs waar hulle wel is, is daar telkens beperkings op hul gebruik en vermoë.

Ses senior personeellede van AfriForum se Veiligheidsafdeling het die vierdagkursus voltooi met die oog daarop om die inhoud en aanbieding van dié nuwe kursus op die proef te stel en te evalueer. Die kursus sal nou gefinaliseer word en binnekort aan uitgekose lede van AfriForum landelike veiligheidstrukture aangebied word.

Die kursus bestaan uit beide teoretiese en intense praktiese sessies, waar verskillende soorte spore oor uiteenlopende terreine gesimuleer word. Kursusgangers is geleer hoe om hierdie spore oor lang afstande op te spoor, te identifiseer en te volg. Daar is ook gefokus op taktiese aspekte tydens spoorsnyoperasies, soos hoe om tydens kontak met misdadigers die oorhand in ’n moontlike vuurgeveg te verkry.

Volgens Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder by AfriForum, is dit belangrik om daarop te let dat die gebruik van ’n spoorsnyer egter nie in isolasie gesien moet word nie en dat die aanwending van dié kundigheid as deel van ’n geïntegreerde benadering gevolg moet word. “Spoorsny behoort geïntegreer te word met bevel- en beheermaatreëls wat vanuit die operasie se taktiese hoofkwartier, of gesamentlike operasiesentrum, geïmplementeer word. Die gebruik van tegnologie, soos geslotebaankameras en kleiner taktiese hommeltuie, die inwerkingstelling van deeglik beplande en ingeoefende gebeurlikheidsplanne en goeie onderlinge kommunikasie sal die taak van die spoorsnyer aansienlik vergemaklik. Daarom is samewerking tussen alle veiligheidsrolspelers van kritieke belang om spoorsnyers in staat te stel om vermeende misdadigers in te haal en die arrestasie met behulp van die operasionele magte te verseker.”

Die ontwikkeling van ’n gevorderde spoorsnykursus en ’n instrukteurskursus word intussen reeds in die vooruitsig gestel.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê: “Ons is baie opgewonde oor die potensiaal van hierdie kursus. Dit is ’n praktiese, funksionele oplossing vir ’n werklike probleem waarmee gemeenskappe daagliks gekonfronteer word. Deur hierdie vaardighede intern te ontwikkel, versterk ons AfriForum se vermoë om daadwerklik en doeltreffend op te tree in noodsituasies.”

Soortgelyke plasings