AfriForum-opname toon kommer oor haglike toestand van vullisterreine in dié Limpopo-dorpe
Daar heers ’n wydverspreide ontevredenheid onder inwoners van Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong oor die toestand van die plaaslike vullisterreine. Daar is ’n dringende behoefte aan ingryping by hierdie dorpe vullisterreine, wat deur die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit bestuur word. Dié inligting het aan die lig gekom in ’n opname wat AfriForum tussen April en Junie onder inwoners van hierdie drie Limpopo-dorpe gedoen het. Die meerderheid van die respondente was Afrikaanssprekend en ouer as 45.
Die opname se bevindinge toon ’n duidelike bekommernis oor onwettige storting en die swak instandhouding van die plaaslike vullisterreine. Die oorgrote meerderheid van respondente beskou die vullisterreine in hul dorpe as onveilig omdat misdadigers maklike toegang tot hierdie terreine het. Die plaaslike munisipaliteit se gebrek aan dienslewering is ook ’n groot bron van frustrasie met talle respondente wat uitdagings ervaar met die gereelde verwydering van hul huishoudelike vullis.
As gevolg van hierdie volgehoue swak dienslewering, het AfriForum reeds verskeie briewe aan dr. Phophi Ramathuba, premier van Limpopo, en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gerig om die kwessie op te los. Tot op hede was daar geen wesenlike verbetering nie.
Die opname het verder getoon dat die meerderheid van die gemeenskap ten gunste is dat die vullisterreine deur ’n private instansie bestuur moet word. Daar is ook ’n beduidende bereidwilligheid onder inwoners om vir private vullisverwyderingsdienste te betaal om sodoende ’n volhoubare oplossing te vind.
In die lig van die munisipaliteit se onvermoë om basiese dienste te lewer, ondersoek AfriForum tans die moontlikheid om self vullisverwyderingsdienste aan te bied. Die organisasie bly egter daartoe verbind om ’n samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan om die krisis op te los en te verseker dat inwoners die dienste kry waarvoor hulle betaal.
“Die bevindinge van hierdie opname is ’n duidelike mandaat van die gemeenskap. Hulle is moeg vir leë beloftes en ’n ongesonde leefomgewing. AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas en sal nie skroom om alternatiewe oplossings te implementeer om ons dorpe skoon en veilig te hou nie,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
Alhoewel die opname se bevindinge nie na die res van die bevolking veralgemeen kan word nie, bied dit insiggewende bevindinge oor die deelnemers se menings.
AfriForum moedig die gemeenskap aan om aan te hou om swak dienslewering aan te meld en betrokke te raak by plaaslike inisiatiewe. Word deel van die verskil, besoek www.wordlid.co.za.