|

AfriForum leer Klerksdorp-leerders hoe om boeliegedrag te pootjie

AfriForum se Teenboelieveldtogspan en Klerksdorp-tak het verlede week die leerders van vier skole in Klerksdorp besoek en hulle toegespreek oor omstanders se reaksie op boeliegedrag en hoe dit ’n situasie kan omkeer.

Dié span het op 12 en 13 Februarie Laerskool Saamtrek, Laerskool Goudkop, President Primary School en Laerskool Meiringspark besoek om leerders op die gevare van afknouery te wys en hul in staat te stel om boeliegedrag vroeg in die kiem te smoor. Leerders is onder meer geleer dat omstanders ’n groot invloed het op boelies se optrede en dat hul reaksie, of gebrek daaraan, ’n ander kind van afknouery kan spaar.

“Dit was belangrik vir die leerders om te verstaan dat boelies hul houvas oor hul slagoffers verloor wanneer omstanders weier om te lag vir ’n boelie se gedrag of weier om stil te bly wanneer hulle boeliegedrag sien,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

“Slagoffers van boeliegedrag kan boonop selfvertroue ophou en die afknouery stopsit wanneer hulle ondersteuning van vriende ontvang. AfriForum se Teenboelieveldtogspan het daarom leerders aangemoedig om goedhartig te wees en hul klasmaats te respekteer.”

Neil Strydom, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, meen dat die burgerregteorganisasie se teenboelieveldtog ’n uitstekende toevoeging tot skole se teenboelieprogramme is. “Dit is daarop gemik om leerders met praktiese maniere toe te rus om boelies te hanteer en bevorder ’n omgewing waar boeliegedrag nie geduld word nie.”

Dit is vir AfriForum belangrik om leerders toe te rus met die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan.

“Leerders moet op ’n jong ouderdom met die vaardighede toegerus word om goed aangepaste, funksionerende lede van die samelewing te word. Daarom help AfriForum om van vroeg af boompies te buig, want veilige skole sorg vir veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” sluit Scheepers af.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog of laai die gratis teenboeliegids hier af.

Soortgelyke plasings