AfriForum jaag Zuma steeds vir regskoste van meer as R500 000
Oudpresident Jacob Zuma se uitgerekte regstryd om die mediese parool wat in September 2021 aan hom toegestaan is, geldig te laat verklaar, het in 2023 – sonder sukses – tot in die Konstitusionele Hof gedraai. Boonop het Zuma se nederlae in dié verband teen AfriForum in die Hooggeregshof, Appèlhof én Konstitusionele Hof met kostebevele teen hom gekom. En al stap tyd aan vir dié 83-jarige oudpresident, is AfriForum steeds vasbeslote om Zuma te laat opdok vir regskoste ten bedrae van minstens R500 000 wat nog kragtens die Hooggeregs- én Appèlhofuitsprake aan dié burgerregteorganisasie betaal moet word. AfriForum het intussen vandag aangekondig dat dit gereed is om die nodige regstappe te doen om Zuma te dwing om die uitstaande betaling te maak.
AfriForum het dié saak met koste gewen.
In 2021 het AfriForum en ander applikante ’n aansoek in die Pretoriase Hooggeregshof ingedien en aangevoer dat die mediese parool wat in September 2021 aan Zuma toegestaan is, onwettig was. AfriForum het dié saak met koste gewen. Zuma het egter teen die bevinding geappelleer, maar sy appèlsaak het in die in die Hoogste Hof van Appèl vasgeval waarna hy hom tot die Konstitusionele Hof gewend het. Uitspraak in dié saak is in Julie 2023 gelewer nadat Zuma se aansoek om verlof tot appèl téén die Appèlhofuitspraak van die hand gewys is, maar teen Augustus daardie jaar het Zuma finaal tronkstraf vrygespring toe presidensiële kwytskelding aan hom toegestaan is.
Hoewel Zuma reeds AfriForum se regskoste vir sy mislukte Konstitusionele Hof-saak betaal het, beloop sy skuld vir die kostebevele na aanleiding van die Hooggeregshof- en Appèlhofsake tans minstens ’n halfmiljoen rand. Hierdie bedrag kan egter nog aangepas word as daar ’n berekening vir rente ook gedoen word.
AfriForum kan nou die balju nader om ’n lasbrief te bekom om op van Zuma se eiendom beslag te lê.
“Daar was al verskeie sperdatums vir kostebevele wat Zuma ignoreer het. Die laaste hiervan was verlede maand in die Hoogste Hof van Appèl en AfriForum kan nou die balju nader om ’n lasbrief te bekom om op van Zuma se eiendom beslag te lê. Die betaling wat Zuma wel gemaak het, het egter eers plaasgevind ná AfriForum in daardie geval ’n lasbrief bekom het,” sê Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder.
Boshoff verduidelik dat Zuma nie meer enige regsopsies oor het om die betaling aan AfriForum te ontwyk nie en dat hy sal moet opdok – of hy nou wil of nie.
“Zuma het reeds menigmale verantwoordbaarheid ontduik. AfriForum is vasberade om die laaste deel van die regskoste uit sy rekening te kry, want dis eintlik die enigste gevolge wat hy op die ou end sal dra vir sy minagting van die hof,” sluit Boshoff af.
Intussen blyk dit dat die regstorms wat rondom Zuma woed, net nie wil end kry nie. Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales se pogings om die wapentransaksie-korrupsieverhoor teen hulle te staak, is vroeër vandeesmaand van die hand gewys. Klagtes van korrupsie, geldwassery, afpersing en bedrog staar Zuma en Thales in die gesig en hou verband met die omstrede wapentransaksie van 1999. Thales is daarvan aangekla dat hulle Zuma vir politieke beskerming betaal het.