AfriForum herstel gat in Rossouwstraat te midde Tshwane-metro se pligsversuim
AfriForum se Pionier-tak, wat Meyerspark, Silverton, Murryfield en Die Wilgers dien, het die padoppervlak in Rossouwstraat herstel nadat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit versuim het om dit te doen toe hy ’n reuse-waterlekkasie in die pad herstel het. AfriForum se spanne het op 29 Mei vroegoggend aan die werk gespring om die beskadigde pad teen ’n koste van bykans R18 000, waarvan Uitkyk Slaghuis die helfte betaal het, te herstel. Hierdie omvattende herstelwerk is sonder enige hulp van die metro gedoen.
Die Tshwane-metro het hierdie waterlekkasie, wat in Desember 2024 ontstaan het, ná AfriForum se volgehoue druk uiteindelik aan die begin van Mei herstel. Die lekkasie het mettertyd vererger en die padoppervlak beskadig. Die metro moes die padoppervlak opgrawe om die lekkasie te herstel, maar het toe nooit die gat toegemaak of beveilig nie.
“Soos oudergewoonte het die metro net halwe werk gedoen. Dié optrede van die metro het ’n ernstige risiko vir padgebruikers geskep en AfriForum gedwing om weereens in te gryp. Dit is net nóg ’n bewys van die Tshwane-metro se onvermoë om proaktief op te tree en kwessies op te los voordat dit krisisse word,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
Hy beklemtoon verder hoe aktiewe gemeenskappe, betrokke inwoners en sterk organisasies soos AfriForum selfdoen-oplossings kan bied waar die staat faal.
“Die lekkasie het vir maande voortgeduur – en eers nadat AfriForum met regstappe gedreig het, het die metro opgetree. Maar selfs toé het hulle net halwe werk gedoen. Die pad was nog onbruikbaar totdat AfriForum ingespring het,” sê Roodt.
AfriForum doen ’n beroep op alle inwoners om by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak – of dit deur lidmaatskap, vrywilligerswerk of finansiële bydraes is – elke hand maak die taak ligter.
Volg die skakel en sluit aan by ’n beweging wat nie kla nie, maar veg en bou.
