AfriForum gee volledige lys van plaasmoorde aan Polisieminister te midde van regering se ontkenningsveldtog
AfriForum het vandag volledige besonderhede van die agt bevestigde plaasmoorde wat vanaf Oktober tot Desember 2024 plaasgevind het, aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, voorsien. Dit volg in reaksie op Mchunu se verklaring Vrydag waarin hy AfriForum uitdaag om die feite oor dié moorde aan hom voor te lê. Hy het terselfdertyd herbevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jongste statistiek toon dat daar net een plaasmoord in dié drie maande was. AfriForum betwis dié syfers en voer aan dat die minister óf oningelig is óf doelbewus probeer om die omvang van die plaasmoordkrisis te onderspeel.
Die huidige geskil kom ná die burgerregteorganisasie se herhaalde pogings om met die regering in gesprek te tree oor die voortslepende plaasmoordkrisis. ’n Versoek om ’n vergadering met die minister op te stel is in Januarie aan die minister gerig, maar ook dié versoek is, soos talle vorige pogings om oor plaasmoorde met die regering in gesprek te tree, geïgnoreer.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, hou die burgerregteorganisasie jare lank reeds rekord van alle bevestigde plaasaanvalle en -moorde. Dié aanvalle word geklassifiseer op grond van die SAPD se eie definisie van plaasaanvalle soos vervat in die landelike veiligheidstrategie.
In een van die aanvalle waaroor AfriForum besonderhede aan Mchunu voorgelê het, is ’n ma en dogter in Oktober 2024 ontvoer en vermoor. “Minister Mchunu se bewering dat net een plaasmoord plaasgevind het van Oktober tot Desember 2024, kommunikeer aan die familie van hierdie slagoffers dat plaasmoorde nie ’n prioriteit is nie. Ons kan nie toelaat dat politiekery voorrang geniet bo die werklikheid van plaasmoorde en die algemeen ondraaglike vlakke van misdaad in Suid-Afrika nie. Ons het toewyding, leierskap en samewerking nodig om hierdie misdaadpandemie te beveg. Die regering moet nou kragte saamsnoer met privaat organisasies sodat daar gesamentlik ’n daadwerklike verskil gemaak kan word. Ons kan net hoop dat die minister hierdie siening deel,” sê Broodryk.
Hy benadruk dat AfriForum se buurtwagstrukture, ten spyte van regeringsleiers se gebrek aan politieke wil om die omvang van plaasaanvalle te erken en die probleem te takel, steeds op grondvlak goeie werksverhoudinge met die SAPD handhaaf en hul pogings om misdaad te bekamp, ondersteun. Daar is reeds ’n bewese prestasierekord van gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatiewe wat bystand lewer aan die SAPD in terme van landelike veiligheid, die opsporing van misdadigers en die verkryging van skuldigbevindings. Hierdie pogings word egter ondermyn deur politieke leiers se gebrek aan toewyding.
“Die feit dat ons boonop ’n president het wat al voor internasionale media ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind en weier om politieke leiers wat ‘Kill the Boer, kill the farmer’ dreunsang, te veroordeel, is ’n duidelike bewys daarvan dat die Suid-Afrikaanse regering selektief te werk gaan in hul reaksie op misdaad,” sê Broodryk.
AfriForum herbevestig intussen dat dit sal voortgaan om plaasmoorde te monitor en te dokumenteer om te verseker dat die krisis nie geïgnoreer of as onbelangrik afgemaak word nie. Die organisasie bly ook daartoe verbind om landelike gemeenskappe te beskerm en saam te werk met alle rolspelers wat opreg poog om die plaag van geweldsmisdaad in Suid-Afrika te takel.