AfriForum eis volle deursigtigheid oor watersituasie in Bethal
AfriForum se Bethal-tak het volle deursigtigheid by die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit geëis rakende die gebrekkige waterverskaffing aan dié dorp. AfriForum het self verlede jaar meer as twee miljoen liter water aan gemeenskapslede beskikbaar gemaak en deur die spaarsamige gebruik daarvan talle inwoners vir bykans drie maande lank onderhou. Die burgerregteorganisasie se noodwaterpunte moes die afgelope paar weke weer die mas opkom toe groot dele van Bethal skielik sonder water gesit het.
Meer as twee weke gelede het Bethal wydverspreide wateronderbrekings ervaar. Alhoewel die onderbreking vir sommige dele van korte duur was, was ander dele van die dorp steeds ’n week later sonder water. Die munisipaliteit het egter sy kommunikasie oor die wateronderbrekings vaag gehou en aangevoer dat die probleem by Randwater lê – wat glo weer water teen helfte van sy kapasiteit na Bethal pomp.
AfriForum voer egter aan dat die munisipaliteit nie die watersituasie na behore bestuur nie en inwoners in die donker hou oor die werklike stand van sake. Daar is boonop geen aanduiding oor hoe lank die waterprobleme gaan voortduur nie of hoe die munisipaliteit beplan om die situasie te pak nie.
“Die Bethal-tak eis dringend duidelikheid van die munisipaliteit af. ’n Gemeenskap kan nie effektief funksioneer of na behore beplan wanneer hulle nie die volle prentjie het nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
“AfriForum sal nie agteroor sit en toekyk hoe ’n gemeenskap benadeel word vir die swak bestuur van ’n munisipaliteit nie. Die tak plaas voortdurend druk op die munisipaliteit oor die probleem. AfriForum sal intussen voortgaan om inwoners met sy noodwaterpunte te dien,” sluit Bekker af.
Sluit aan en steun AfriForum Bethal met die geveg vir water, besoek: www.wordlid.co.za.