| |

AfriForum eis meer inligting oor Johannesburg-metro se planne om sport-, erfenisterreine te vervreem

Klankgreep: Alana Bailey

Klankgreep: Marais de Vaal

In reaksie op mediaberigte oor die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se voorneme om sekere sport- en erfenisterreine te verkoop of vervreem, het AfriForum die Johannesburg Eiendomsmaatskappy en die metro se parke-afdeling om meer duidelikheid oor die planne gevra. In hierdie stadium is dit nie duidelik presies watter terreine ter sprake is nie en ook nie of die verhuring of verkoop aan ontwikkelaars beplan word nie. Skynbaar is langtermyn huurooreenkomste reeds by sommige van die terreine in plek, wat die nuwe planne nog meer onverklaarbaar maak.

AfriForum is lankal reeds ernstig bekommerd oor die metro se hantering van die erfenisskatte waaroor dit beskik, die onderhoud van sportfasiliteite en groen ruimtes in die stad, asook die infrastruktuur wat inwoners van noodsaaklike dienste moet voorsien. Hierdie jongste beplanning klink na benoude spronge om begrotings te laat klop, ten koste van die welstand van en dienslewering aan inwoners.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, bied groen ruimtes vele sosiale en ekologiese voordele wat die publiek sowel as die omgewing se welstand ondersteun. “Dit is nie ’n luuksheid nie, maar ’n bepalende faktor vir lewenskwaliteit in stedelike gebiede. Die handjievol oorblywende groen ruimtes in Johannesburg moet daarom ten alle koste beskerm word. Om die ontwikkeling van hierdie kosbare ruimtes as kitsoplossing te bied om die metro se koffers te vul, is nie ontwikkeling nie, dit is desperaatheid. Die ekonomiese winste is tydelik, maar die verlies van hierdie groen ruimtes is permanent.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, voel ewe sterk oor die toekoms van erfenisbakens in die stad. “Wanneer dit by bemarking kom, spog Johannesburg graag met sy kunsversameling, historiese geboue en parke, maar in die praktyk word dit tot gevaarlik na aan vernietiging verwaarloos. Dat die verkoop van hierdie bates nou boonop oorweeg word, wat die toekoms daarvan onseker maak, bloot om die huidige bestuur se mislukkings te probeer toesmeer, is onaanvaarbaar. Die bates is geskep en deur dekades gekoester om inwoners te dien, nie om besture uit die verknorsing te red nie. AfriForum wil alle metro’s en ander plaaslike owerhede herinner dat hulle slegs tydelike opsigters hieroor is met die verantwoordelikheid om dit so goed as moontlik te bewaar en aan toekomstige geslagte oor te dra.”

AfriForum eis klaring oor presies watter eiendomme ter sprake is, wat die beplanning daarvoor behels en hoe openbare raadpleging hieroor uitgerol gaan word. Antwoorde sal dié organisasie se verdere optrede bepaal ten einde die belange van alle inwoners ten beste te dien.

Soortgelyke plasings