|

AfriForum eis departement se ingryping by waterkrisis in Mpumalanga

Plaaslike munisipaliteite in Mpumalanga se onvermoë om hul rekeninge met Randwater en ander watervoorsieners te vereffen, het daartoe gelei dat watertoevoer na dorpe wisselvallig is en dat burgerlike organisasies soos AfriForum die mas moet opkom. Gebiede word dikwels vir langer as 24 uur sonder drinkwater gelaat, terwyl daar al selfs gevalle was waar dorpe vir langer as 100 dae sonder water gelaat was, soos op Bethal in 2024. Die voortslepende uitdagings met watervoorsiening in die provinsie het AfriForum se takke in die Hoëveld genoop om ’n skrywe aan die Departement van Water en Sanitasie in Mpumalanga te stuur om by die situasie in te gryp.

Die burgerregteorganisasie het die afgelope paar maande gespook om deur sy noodwaterpunte veilige drinkwater aan dorpe in Mpumalanga te verskaf. Dié dorpe is egter so gereeld sonder water dat die vraag na veilige drinkwater al hoe meer word.

AfriForum eis nou dat die Departement van Water en Sanitasie in Mpumalanga dadelik ingryp en plaaslike munisipaliteite begin aanspreeklik hou vir die wanbestuur van hierdie natuurlike hulpbron.

“Die situasie op dorpe kan nie netso gelaat word nie, want binnekort is daar ’n volslae krisis op hande. Die departement moet dadelik by die situasie ingryp om te verseker dat dorpe gereelde en betroubare watertoevoer het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Dorpe soos Bethal, Secunda, Leandra, Kinross Evander, Delmas, Eloff en Sundra word gereeld met droë krane gelaat omdat Randwater nie genoegsame water verskaf nie. Die oënskynlike redes hiervoor is dat waterverbruik gedurende sekere tye van die dag te hoog is of dat die plaaslike munisipaliteite nie hul waterrekeninge vereffen nie, wat veroorsaak dat watertoevoer beperk word. Die laasgenoemde geld veral vir die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit wat Delmas, Eloff en Sundra van water voorsien.

Alhoewel groot dele van Mpumalanga afhanklik is van watervoorsieners soos Randwater, vaar die plaaslike munisipaliteite wat hul eie waterwerke het, nie veel beter nie. AfriForum het opgemerk dat dorpe soos Ermelo, Morgenzon, Piet Retief en Standerton se water gereeld onveilig is vir menslike gebruik. Gedurende Januarie vanjaar was die drinkwater op al hierdie dorpe bruin met ’n onaangename reuk wat daarmee gepaard gegaan het. Die oorsaak daarvan was egter nooit vasgestel nie, omdat die munisipaliteite nie duidelikheid daaroor kon verskaf nie.

“Die betroubare voorsiening van veilige drinkwater is van kritiese belang, aangesien talle inwoners in Mpumalanga dit nie kan bekostig om water ten duurste aan te koop nie. Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot veilige drinkwater te hê en tans word duisende Suid-Afrikaners van hierdie reg ontneem weens wanbestuur,” sê Bekker.

AfriForum bly daartoe verbind om druk op die plaaslike munisipaliteite en die Departement van Water en Sanitasie in Mpumalanga te plaas om watervoorsiening te verbeter en amptenare verantwoordbaar te hou wat hulself skuldig maak aan wanbestuur.

Soortgelyke plasings