AfriForum eis antwoorde oor Govan Mbeki se selektiewe behandeling met skuldinvordering
AfriForum se Bethal- en Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-takke (oftewel die Teks-tak) het op Donderdag 24 Julie ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gerig om inligting te bekom oor waarom die reuse- uitstaande bedrae op sommige munisipale amptenare en raadslede se munisipale rekeninge nie dringende aandag geniet nie.
AfriForum het al in September 2024 in ’n brief aan Elias Maseko, die munisipale bestuurder, antwoorde geëis oor waarom die agterstallige rekeninge van die skuldiges nog nie betaal is nie. Die rekeninge se totale uitstaande bedrag was toe al reeds meer as R300 000. Maseko het in reaksie op die brief gesê daar word aandag aan die situasie geskenk en dat die skuldige partye met skulderkennings-ooreenkomste genader sal word.
Hoewel die nuutste syfers in die Govan Mbeki-munisipaliteit se Maart-verslag vir die eerste kwartaal van 2025 aandui dat daar wel ooreenkomste aangegaan is, het nie al die skuldige partye die ooreenkoms onderteken nie. En terwyl sommige amptenare en raadslede hul agterstallige rekeninge getrou afbetaal, het ander s’n toegeneem. Dit het egter tot gevolg gehad dat die uitstaande rekeninge van skuldige munisipale amptenare en raadslede steeds toeneem en luidens die Maart-verslag al meer as R700 000 beloop het.
“Inwoners sit sonder water weens wanbetalings aan Rand Water. Hulle krag word maklik gesny as daar klein bedrae uitstaande is maar die politieke elite word net uitgelos. Dit is onaanvaarbaar,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld.
Met die PAIA-aansoek eis AfriForum antwoorde van die Govan Mbeki-munisipaliteit oor waarom die rekeninge nie vereffen word nie, waarom van die amptenare en raadslede verskeie rekeninge in hul naam het en waarom die bedrae oor en weer tussen die verskeie rekeninge geskuif word, asook wat die betalings-ooreenkomste behels en waarom slegs sommige individue die skulderkennings-ooreenkomste moes onderteken.
“Dit blyk dat amptenare die skuld tussen verskeie rekeninge laat rondskuif om te verhoed dat hulle opduik in die finansiële verslae. Van die amptenare het rekeninge wat meer as twee jaar agterstallig is teen bedrae hoër as R90 000. Die soustrein stop nou en ons versoek die gemeenskap om ons hierin te ondersteun,” sluit Bekker af.
Klik hier om AfriForum se veldtog te ondersteun of besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum aan te sluit.
