AfriForum brei herwinningsprojek uit
Deur Marthinus Koekemoer
Die land se vullisterreine verkeer onder ernstige druk, maar ten spyte daarvan word net sowat 10% van alle vullis wat plaaslik gegenereer word, herwin. AfriForum doen ook sy deel wanneer dit kom by herwinning en die organisasie se eerste grootskaalse herwinningsprojek, wat reeds in 2021 in Centurion van stapel gestuur is, bars behoorlik uit sy nate. Die aanvraag is reeds so groot dat die projek van hierdie maand af uitgebrei is om ook die hele Pretoria te bedien.
Herwinning: So maklik soos 1-2-3!
Volgens ’n studie wat in 2018 gedoen is, herwin 75% van huishoudings in Suid-Afrika glad nie. Redes wat hiervoor aangevoer word, sluit onder meer in: ’n gebrek aan tyd en kennis oor hoe om te herwin sowel as die toeganklikheid van herwinningsterreine. Alhoewel herwinning vir iemand wat dit nog nie probeer het nie, na ’n groot uitdaging kan lyk, is dit glad nie só moeilik nie.
Hier is eenvoudige raad vir beginners: Begin klein deur byvoorbeeld net op twee soorte herwinbare items soos plastiek en glas te fokus. Spoel alle herwinbare items af voordat dit in die herwinningshouer gegooi word. Druk plastiekhouers plat om spasie te spaar en hou die proppies van bottels op sodat dit nie uitval en deel van die rommelprobleem word nie.

Wat plastiek betref, is daar verskeie soorte, maar die meeste herwinningsentrums aanvaar 1-PET-, 2-HDPE-, 4-LDPE-, 5-PP- en 6-PS-plastiekprodukte. Hierdie kodes word gewoonlik op die plastiekprodukte aangedui. Die volgende dien as ’n breë riglyn van die verskillende tipes plastiek en watter items gewoonlik in die betrokke kategorie val:
- 1-PET: Hierdie plastiek is sterk, buigbaar en lig. Water-, koeldrank- en lyfroombottels word dikwels hiervan gemaak.
- 2-HDPE: Hierdie tipe plastiek is ’n bietjie sterker as 1-PET en kan hoër temperature weerstaan. Houers van chemiese produkte, verf en skoonmaakmiddels word gewoonlik van 2-HDPE-plastiek gemaak.
- 4-LDPE: Broodsakkies en borrelplastiek word dikwels van 4-LDPE-plastiek gemaak. Dit is ook die buigbaarste tipe plastiek.
- 5-PP: Hierdie plastiek kan uitgeken word aan hoe onbuigsaam dit is. Dit word dikwels gebruik vir strooitjies en voedselhouers wat in die mikrogolfoond gebruik word.
- 6-PS: Deksels vir winkelkoeke, soesjihouers en jogurthouers word gewoonlik van hierdie soort plastiek gemaak.
AfriForum se wenner-herwinningsplan
AfriForum se herwinningsprojek maak voorsiening vir plastiek, blikkies en sekere vorme papier en karton en is volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, goed vir omgewing én ’n belangrike manier waarop staatsverval teengewerk kan word.
“Suid-Afrika se vullisterreine gaan binnekort nie meer genoeg spasie hê nie. Die regering, by wie die verantwoordelikheid vir die rehabilitasie en bestuur van die terreine lê, ontduik die verantwoordelikhede skaamteloos,” verduidelik hy.
“‘Asblikgrawers’, onwettige stortingsterreine en informele herwinning vul die leemte wat staatsverval laat, maar dit gaan dikwels gepaard met misdaad soos kabeldiefstal en huisinbrake. AfriForum het besef dat ons moet ingryp om seker te maak dat volhoubare en gemeenskapsgedrewe inisiatiewe ingestel word om agteruitgang op verskeie vlakke teen te werk – en as teenvoeter vir die agteruitgang van vullisterreine herwin ons,” sê Roodt.
Klik hier vir meer inligting oor AfriForum Dienste se vullisverwyderingsdiens, herwinningsdiens en ander dienste uit te vind.