AfriForum bied ondersteuning aan ouers met kinders in buiteland by diaspora-oggend
Retire at Midstream het op 20 Mei in samewerking met AfriForum ’n spesiale diaspora-oggend aangebied vir ouers en grootouers wie se kinders en kleinkinders in die buiteland woon. Die byeenkoms is met waardering ontvang deur inwoners wie se families oor wêrelddele versprei is – van Australië, Nieu-Seeland en die Tsjeggiese Republiek tot Nederland, België, die Verenigde Koninkryk, Switserland, Kanada en die Verenigde State van Amerika (Texas, New Jersey en Atlanta).
AfriForum Wêreldwyd se hoof van Diaspora, Sue-Ann de Wet, is as gasspreker genooi om insig te bied in die emosionele en praktiese uitdagings wat ouers ervaar wanneer hul kinders emigreer. Sy het ook wenke gedeel oor hoe families oor grense heen kontak kan behou en verhoudings kan versterk.
AfriForum Wêreldwyd bied reeds vir byna twee dekades ’n tuiskomplek vir Afrikaners in die buiteland. Hierdie unieke inisiatief help mense nie net om bande met Suid-Afrika te behou nie, maar bied ook ondersteuning aan families wat agterbly.
Emigrasie het die afgelope jare ’n algemene werklikheid vir vele Suid-Afrikaners geword en so baie ouers en grootouers het in die land agtergebly toe hul kinders en kleinkinders geëmigreer het.
“Wanneer jy die woord emigrasie hoor, dink ’n mens eerste aan iemand wat die land verlaat en selde aan die geliefdes wat agterbly. Emigrasie is nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer nie, maar ook vir die mense wat agterbly. Ook húlle beleef ’n lewensverandering, vol verlange, aanpassing en emosionele uitdagings,” sê De Wet.
AfriForum Wêreldwyd ondersteun hierdie families met insiggewende artikels deur kenners, aanlyn hulpbronne en sosiale geleenthede wat hulle help om netwerke van gedeelde ervaring te bou. Die organisasie help ook om ouers meer vertroud te maak met hul kinders se nuwe werklikheid. Deur gratis op AfriForum Wêreldwyd se Kollig-nuusbrief in te teken, kan families meer leer oor die kultuur, gewoontes en uitdagings van die land waarin hul geliefdes woon – en sodoende word betekenisvolle gesprekke en begrip bevorder.
Volgens De Wet bied diaspora-geleenthede soos dié nie net troos nie, maar skep dit ook ’n gevoel van gemeenskap: “Deur met ander in soortgelyke situasies te gesels, bou ons ’n ondersteuningsnetwerk wat die emosionele wipwarit van emigrasie help verlig.”