Ysterpenlokval
| |

AfriForum beveilig Pretoria-Oos se paaie teen ysterpenlokvalle in aand

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het gisteraand (27 Maart), in samewerking met sy Moreletapark-buurtwag, ’n proaktiewe operasie in die verre oostelike buitewyke van Pretoria uitgevoer om op te tree teen lokvalle in paaie vir voertuie. Die operasie het gefokus op die patrollering van die afgeleë gedeeltes van Garsfonteinweg en omliggende landelike paaie, wat geïdentifiseer is as potensiële brandpunte vir voorvalle van lokvalle vir voertuie. As deel van hierdie poging het AfriForum ’n hommeltuig, wat toegerus is met nagsigvermoëns, ontplooi om toesig te verbeter en enige verdagte aktiwiteite in die gebied op te spoor.

Hierdie operasie vorm deel van AfriForum se voortgesette veldtog om die toenemende bedreiging van lokvalle oor Suid-Afrika heen te bekamp.

AfriForum moniteer al meer as ’n jaar aktief hierdie gevaarlike tendens, waar misdadigers ysterpenne, klippe of ander voorwerpe op paaie plaas om voertuie tot stilstand te dwing en gevolglik motoriste te teiken, te beroof en in sommige gevalle te vermoor. Die organisasie se buurtwagte het patrollies op groot roetes soos die N1, N4, R80, N12 en Garsfonteinweg verskerp, terwyl hulle ook slagoffers gehelp het en met wetstoepassers saamgewerk het om hierdie voorvalle hok te slaan. In 2024 alleenlik het AfriForum se pogings die ontwikkeling van gespesialiseerde opleidingsmodules vir sy 177 buurt- en plaaswagstrukture landwyd ingesluit, wat vrywilligers toerus met die vaardighede om voorvalle van lokvalle te voorkom en daarop te reageer.

Die ontplooiing van gevorderde tegnologie, soos nagsighommeltuie, beklemtoon AfriForum se verbintenis om gemeenskapsveiligheid deur innoverende en doeltreffende maatreëls te verbeter. Gisteraand se operasie in Pretoria-Oos was daarop gemik om potensiële misdadigers af te skrik en inwoners en motoriste in die gebied gerus te stel. Geen voorvalle van lokvalle is tydens die patrollie aangemeld nie, wat ’n bewys is van die proaktiewe teenwoordigheid van AfriForum se toegewyde vrywilligers.

“Lokvalle bly ’n ernstige bedreiging vir motoriste, veral in gebiede soos Pretoria-Oos, waar landelike paaie en snelweë toenemend geteiken word. Ons samewerking met AfriForum se Moreletapark-buurtwag en die gebruik van nagsighommeltuie gisteraand demonstreer ons onwrikbare toewyding om ons gemeenskappe veilig te hou. Ons sal voortgaan om hierdie pogings uit te brei en die publiek aan te spoor om waaksaam te wees en enige verdagte aktiwiteite aan hul buurtwag en die polisie te rapporteer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum moedig inwoners aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit en ingelig te bly oor brandpunte vir lokvalle en veiligheidswenke. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings