|

Gauteng-ouers – wees gereed vir die 2026-aansoekstormloop

Klankgreep: Carien Bliem (Afrikaans)
Klankgreep: Carien Bloem (Engels)

“Ouers van voornemende graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng moet so gou moontlik registreer wanneer die registrasieproses vir 2026 op Donderdag 24 Julie 2025 om 08:00 open,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Die 2026-aansoektydperk gee ouers net meer as ’n maand om hul aanlyn registrasie af te handel en plasings begin op 16 Oktober 2025. Hoewel verskeie plasingskriteria, soos huisadres en taal van onderrig, in ag geneem word, geld die regsbeginsel van eerste in plek, eerste in reg steeds. Dit beteken dat ouers wat vroeg en volledig aansoek doen, ’n beduidend beter kans het op plasing by hul voorkeurskool.

Belangrike riglyne vir ouers:

  • Graad 1- en 8-aansoeke vir Gautengse openbare skole vir 2026 kan slegs aanlyn via www.gdeadmissions.gov.za geskied. Bewaar die waglysnommer wat per SMS gestuur word veilig.
  • Die SOS beveel aan dat ouers slegs een, hoogstens twee skole, van voorkeur kies, al moedig die stelsel hulle aan om tussen drie en vyf skole te kies. Dit help dat skole hul werklike aanvraag en kapasiteit realisties kan bepaal.
  • Alle gesertifiseerde dokumente moet binne sewe dae ná die aansoek eerder fisies by die skool van eerste keuse ingedien word. Die bewys wat deur die skool uitgereik word, moet veilig bewaar word. Moenie dokumente aanlyn indien nie.
  • Deur aansoeke te beperk en dokumente fisies by die voorkeurskool in te dien, help ouers skole om aansoeke te bestuur.
  • Bewys van huisadres is die belangrikste dokument vir plasing – sorg dat dit ooreenstem met wat jy op die stelsel invoer.
  • Neem skermskote van elke stap in die aanlyn proses en bewaar dit veilig vir ingeval daar later navrae of ’n dispuut oor die aansoek of plasing ontstaan.
  • Gebruik een betroubare selfoonnommer tydens registrasie – alle kommunikasie geskied via SMS.
  • Leerders kan slegs aansoek doen by hoërskole wat dieselfde tale aanbied as dié wat op hul graad 7-rapport aangedui word. Dit beteken dat graad 8’s slegs geplaas sal word by skole waar die taal van onderrig, huistaal en addisionele taal ooreenstem met die wat in die laerskool geneem is.

Nodige dokumentasie:

  • Bewys van huisadres (bv. munisipale rekening, nie ouer as drie maande nie).
  • Gesertifiseerde ID van ouer/voog (of toepaslike immigrasiedokumente).
  • Mees onlangse graad 7-skoolrapport (graad 8-aansoekers).
  • Gesertifiseerde geboortesertifikaat van die leerder.
  • Gesertifiseerde kliniekkaart of immunisasieverslag (graad 1-aansoekers).

“Ouers moet nie skroom om by hul voorkeurskool aan te klop vir hulp rakende die registrasieproses nie. Toegewysde administrateurs is by skole aangestel om ouers en voogde by te staan en kan selfs namens ouers en voogde die aanlyn registrasieproses hanteer mits hulle die voornemende leerder se volledige pakkie met al die dokumentasie het. Indien daar enige onsekerhede is, kan ouers ook enige tyd na AfriForum uitreik deur ’n e-pos te stuur aan onderwys@afriforum.co.za,” voeg Carien Bloem, AfriForum se hoof van Onderwysprojekte, by.  Luister ook gerus na hierdie potgooi rakende die aanlynregistrasieproses: https://youtu.be/BLVrZi0_Hck.

Die gewysigde wet op Basiese Onderwys (BELA), wat in Desember 2024 onderteken is, skep bepaalde risiko’s vir Afrikaanse skole wat hul onderrigtaal en toelatingsbeleid wil beskerm.

Volgens die riglyne wat onlangs deur die minister van Basiese Onderwys gepubliseer is, kan geen skool verplig word om sy taalbeleid aan te pas indien die skool voldoende aansoeke ontvang en vol is nie. Hierdie beskerming is egter slegs van toepassing indien die skool oor ’n goedgekeurde taal- en toelatingsbeleid, asook vasgestelde kapasiteitsbepaling beskik, wat in lyn is met wetgewing.

“Die Solidariteit Beweging se instellings staan graag skole by in hierdie verband. Ons kan nie die belangrikheid van vroeë en volledige aansoeke genoeg beklemtoon nie,” sluit Fourie af. “Dit is van kardinale belang dat ouers die volledige aanlyn proses betyds voltooi en alle dokumente fisies by hul gekose skole indien.”

“Politieke druk op Afrikaanse skole om te verengels en weg te doen met enkelmedium onderrig neem daagliks toe. Die enigste wyse waarop hierdie druk afgeweer kan word is deur die spoedige optrede van voornemende ouers en korrekte beleidsformulering deur Afrikaanse skole,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Deur kinders so spoedig moontlik in te skryf en die korrekte ondersteunende dokumente aanlyn en aan die skool te verskaf en veral taal- en toelatingsbeleid te hê by skole wat hulle teen die vergrype van politici beskerm, kan ons as Afrikaanse skoolgemeenskap steeds verseker dat ons skole Afrikaans bly en ’n optimale leeromgewing vir ons kinders is. Solidariteit sal egter nie skroom om amptenare hof toe te neem wat hul aan sodanige vergrype skuldig maak nie.”

Die Solidariteit onderwysernetwerk doen ’n beroep op elke skool, onderwyser en ouer om hierdie inligting met almal in hul skoolnetwerk te deel en veral ouers aan te moedig en in hierdie proses te ondersteun.

Soortgelyke plasings