Swak vullisbestuur éintlike oorsaak van vervalle Mangaung-vullisterreine – AfriForum
Die vullisterreine in Bloemfontein is in ’n gruwelike toestand, wat ernstige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners inhou. Hierdie inligting het aan die lig gekom in AfriForum se vullisterreinouditverslag vir 2025 nadat die twee vullisterreine in die Bloemfontein-omgewing, wat deur die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit bestuur word, vroeër vanjaar geïnspekteer is. AfriForum is egter van mening dat die hoofoorsaak vir die toestand van hierdie vullisterreine nie vanweë swak dienslewering is nie, maar eerder die totale ineenstorting van die metro se vullisbestuur.
AfriForum se onafhanklike oudit van Bloemfontein se noordelike en suidelike vullisterreine skets ’n verwoestende prentjie van verval en verlating: Inwoners is nie bereid om na die vullisterreine te gaan nie weens ’n massiewe veiligheidskwessie op beide terreine; die afval word nie daagliks met grond bedek nie, soos vereis deur nasionale vullisterreinstandaarde; en die oop verbranding van afval is wydverspreid, wat giftige lugtoestande en brandgevare skep. Die oudit dui verder aan dat daar geen toegangsbeheer op die vullisterreine is nie, wat lei tot onwettige storting, betreding en selfs die informele oprigting van plakkershutte op die terreine. Daar is ook geen omgewingsmonitering, rehabilitasie of basiese voldoening nie, soos voorgeskryf deur die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se minimum vereistes vir afvalverwydering deur storting.
Die ironie is egter dat die Mangaung-metro se interne dokumente stilweg bevestig dat hierdie vullisterreine nie op standaard is nie. In sy jongste voorlegging oor vullisbestuur, erken die metro dat slegs 48 uit 119 poste op die vullisterreine gevul is, wat ’n verstommende vakaturekoers van 60% aandui. Luidens die voorlegging werk die metro met slegs vyf aktiewe masjinerie op vullisterreine oor sewe dorpe heen en is geen kapitaalbegroting bestee om die metro se grootste vullisterreine te ontwikkel of op te gradeer nie ten spyte van die meer as R4,7 miljoen wat toegeken is vir die ontwikkeling van nuwe fasiliteite wat onaangeraak bly.
“Hierdie is nie net verwaarloosde terreine nie – dit het verander in gevaarlike vullisterreine sonder toesig. Inwoners en selfs private kontrakteurs is deesdae bang om hierdie gebiede te betree weens onbeheerde storting, brande en kriminele aktiwiteite,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
Intussen mors die Mangaung-metro steeds openbare geld. Volgens die metro eie syfers het hy vanjaar sy ongestruktureerde oortydbegroting met meer as 160% oorskry weens ’n verlammende tekort aan vullisverwyderingsvragmotors en tog het dienste versleg. Die metro se poging om vullisdienste uit te kontrakteer is slegs ’n pleister op ’n groter probleem.
Ten spyte van die openbare bevordering van toekomstige “ekonomiese spilpunte” by vullisterreine, is geen vordering gemaak om basiese funksies te herstel of regulasies af te dwing nie. Daar is geen sekuriteit nie, afval word nie geweeg nie en daar is geen rekordhouding nie. In sommige gevalle is terreine 24/7 oop sonder enige personeel of toesig.
“Dit is nie meer ’n geval van swak dienslewering nie. Die metro se vullisbestuur is besig om in duie te stort, wat ’n openbare gesondheidsnoodgeval inhou,” sê De Klerk.
Die swak bestuur van vullisdienste het tot gevolg gehad dat private vullisverwyderingsdienste, insluitend AfriForum Dienste, oor Bloemfontein heen begin werk het om die leemte te vul. Tog word daar steeds van inwoners verwag om volle tariewe aan die Mangaung-metro te betaal vir vullisverwyderingsdienste wat eenvoudig nie bestaan nie.
AfriForum doen weereens ’n beroep op die Mangaung-metro vir die onmiddellike vrystelling van sy nakomingsoudits vir die vullisterreine en omgewingsverslae; vir die onafhanklike toesig oor munisipale vullisdienste onder administrasie; en vir die spoedige registrasie van private diensverskaffers ingevolge die metro se eie verordening vir afvalbestuur.