|

Nuuskommentaar: Vrot Vrystaatse munisipaliteit moet raad ontbind, beslis hof

Deur Ilze Nieuwoudt

“Daar is nie dienslewering nie. Daar is nie water nie. Daar is nie krag nie,” só het één mismoedige inwoner, ene Isak Maarman, verklaar in ’n televisie-onderhoud wat vroeër hierdie week op eNuus uitgesaai is oor die situasie in een van die swakste munisipaliteite in die Vrystaat. Maarman en die nagenoeg 135 000 ander inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit trek jare lank reeds swaar weens die uiterse swak dienslewering wat die munisipaliteit se dorpe – Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort – kenmerk.

Verlede Vrydag (20 Junie) het daar uiteindelik ’n kritieke keerpunt in die lot van dié Vrystaatse dorpe gekom toe die Hooggeregshof in Bloemfontein beslissend opgetree het in die belang van die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie AfriForum het dié saak aanhangig gemaak teen 15 respondente – waaronder die munisipaliteit, die munisipale raad, die Fezile Dabi Distriksmunisipaliteit waaronder Ngwathe ressorteer, die premier van die Vrystaat en verskeie provinsiale LUR’e.

Regter J.P. Daffue wat die saak aangehoor het, het bevind dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners nakom nie en het daarom as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.

Daffue het onder meer benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die Grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het ook daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarin die hof die rol van waghond moet speel.

En dit is presies wat nou gaan gebeur, want minagting van die hof is lankal nie meer iets nuuts nie. Daarom gaan die respondente – amper soos stout skoolkinders wat na die hoof se kantoor geroep word – elke drie maande aan die hof moet verslag doen oor hoe en waar hulle gehoor gee aan die hof se beslissing.

Die hof het gelas dat die Vrystaat se premier, Maqueen Letsoha-Mathae, sowel as die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak nou hul hande behoorlik gaan moet vuil maak en aan die werk spring. Hulle is opdrag gegee om ’n herstelplan te implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom. Voorts moet die munisipale raad ontbind word en ’n administrateur aangestel word en ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe moet ingestel word om die herstelplan te implementeer.

Luidens mediaberigte het die Ngwathe-burgemeester, Victoria De Beer-Mthombeni, direk na afloop van die hofuitspraak gesê dat sy die hof se beslissing rakende die ontbinding van die munisipale raad respekteer en die uitspraak sal bestudeer. Intussen het die munisipaliteit egter fel standpunt ingeneem. Hulle bestempel nou die hofbeslissing as “gebrekkig” en oorweeg selfs om teen die uitspraak te appelleer.

Die verval en wanbestuur was vir die regter van die Hooggeregshof klokhelder – skynbaar kan dieselfde nie van die munisipaliteit gesê word nie. Ondanks die verdoemende feite wat daarop wys dat die Ngwathe-munisipaliteit nie daartoe in staat is om hul verantwoordelikhede na te kom nie, hou hulle steeds voet by stuk dat vordering gemaak word.

Tyd sal moet leer of die provinsie sake in Ngwathe kan regruk. Een saak staan egter soos ’n paal bo water – die publiek én die howe is keelvol vir verval – en geen stroopsoet verskonings oor kwansuise vordering sal deug nie.

Soortgelyke plasings