Afrikaans, die padda teen die hange van Tafelberg – Chris Chameleon
Deur Ilze Nieuwoudt

“Party mense is perdmense. Party mense is hondmense. Party mense is plantmense, roosmense … En dis alles lewende organismes wat in die ekologie bestaan, waarvoor mens jou soms moet beywer vir die voortbestaan en oorlewing van daardie spesifieke lewensvorm. En ek is ’n Afrikaanse mens.”
Só lui die sanger, liedjieskrywer en akteur Chris Chameleon (wat homself tans bekendstel as Chris-die-eggenoot of Chris-die-pa) die eerste episode van AfriForumTV se nuwe reeks Wortels en woorde in. Dié reeks, waarin verskeie bekendes (waaronder Tobie Cronjé en Janie Bay) voor die kamera inskuif om hul liefde vir Afrikaans met gedigte en musiek uit te druk, bring op ’n unieke manier hulde aan Afrikaans en vier Afrikaans se eerste 100 jaar as amptelike taal.
In die eerste episode, getiteld “Vrede”, vergelyk Chameleon, wat deur sy eie loopbaan al Afrikaans op uiteenlopende maniere in die kuns uitgeleef en opgevoer het, die taal met ’n klein paddatjie wat slegs teen die hange van Tafelberg voorkom. Hy meen Afrikaans toon ooreenkomste met só ’n padda waarmee daar soms planne beraam moet word om die voortbestaan daarvan te verseker.
“As jy die padda [uit sy habitat] haal, sien jy skielik daar is ’n reier wat hom gevreet het en wat nie kan oorleef nie, of jy sien daar is skielik ’n muskieteplaag. Daar is baie dinge wat gebeur wanneer jy die wêreld ontneem van ’n lewende wese – en Afrikaans is dieselfde. Dit is deel van die mens se kulturele ekologie en die oomblik as jy hom wegneem, kan jy verseker weet, die menslike kulturele ekologie is onmiddellik armer,” verduidelik hy.
Chameleon lees in dié episode van Wortels en woorde die gedig “Vrede” deur J.C. Steyn voor, ’n gedig wat hy beskryf as “’n beskrywing van die tye”. Hy bied ’n blik op die digkuns, die “persoonlikheid” van Afrikaans en dié taal met wie hy “’n diep verhouding” het.
Skuif nader en maak kennis met Afrikaans deur die oë van die mense wat hierdie besondere taal praat, droom, sing én dig. Wortels en woorde is bedoel vir almal wat lief is vir Afrikaans en al die variëteite wat dié taal kleur gee.
Klik hier om gratis op AfriForumTV in te teken en toegang te kry tot dié en talle ander Afrikaanse programme.