|

Motoris in hof byna drie jaar ná dodelike botsing

Klankgreep: Julia Matsho

Byna drie jaar nadat ’n dodelike motorongeluk twee werknemers van ’n bakkery se lewens geeis het, het die beskuldigde ná die ingryping van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sy dag in die hof gekry. Vusi Shongwe, het gister in die Atteridgeville-landdroshof verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag in verband met die botsing wat hy na bewering in die vroeë oggendure op 20 Augustus 2022 veroorsaak het. Violet Matsho en Senzo Sithole is op die toneel in W.F. Nkomo-straat, Pretoria-Wes, dood verklaar.

Matsho, Sithole en drie ander kollegas was op dié noodlottige oggend omstreeks 02:30 van die werk af op pad na hul tuistes in Atteridgeville toe die ongeluk plaasgevind het. Volgens die ander passasiers se verklarings het die voertuig, wat Shongwe bestuur het, in hulle baan ingeswaai en ’n kop-aan-kop-botsing veroorsaak.

Matsho se ouer suster, Julia Matsho, ’n gerespekteerde werknemer van AfriForum, het die privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader uit kommer dat die saak nog nie behoorlik ondersoek is nie. Die laaste keer wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) haar of haar familie gekontak het oor die saak was in November 2022.

Dié saak word deur Slang Maangwale, ’n ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, hanteer wat kontak met die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)  gemaak het om te verseker dat hierdie saak die aandag van senior amptenare geniet. Dié amptenare het gereeld opgevolg om te verseker dat die oortreder uiteindelik vervolg word.

Julia Matsho en haar sibbe het hulle verligting uitgespreek dat die saak uiteindelik voorgekom het en hulle hoop om te sien dat geregtigheid vir hul suster sal geskied. “Vandag voel ek baie gelukkig, want sedert haar dood is dit die eerste keer wat ek die beskuldigde sien. Ek wil net hê dat geregtigheid moet geskied vir my suster en haar vriend. Ek is bly dat AfriForum ons familie help,” sê Matsho.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat daar ten spyte van die regering se voortgesette veldtog om paaie veiliger te maak, steeds min gedoen word om diegene wat ongelukke veroorsaak tot verantwoording te roep. “Uit ons ervaring sien ons dat dodelike ongelukke op ons paaie selde behoorlik ondersoek word. Dit word wel opgeteken, maar klaarblyklik nie met die doel om diegene wat verantwoordelik is vir die ongeluk te vervolg nie. As motoriste wat roekeloos bestuur nie aanspreeklik gehou word nie sal enige poging om motoriste se gedrag te verander tevergeefs wees.”

“’n Ander tendens wat ons opgemerk het is die SAPD se versuim om slagoffers van misdade op hoogte te hou van verwikkelinge in hul sake. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om namens slagoffers en hul families aanspraak te maak daarop dat sake deeglik ondersoek word en dat diegene wat geraak word ingelig word van verwikkelinge ten einde geregtigheid te verseker,” sê Bateman.

Shongwe het tydens sy verskyning aansoek gedoen vir regsverteenwoordiging. Die saak is tot 5 Junie uitgestel sodat die dossier openbaar gemaak kan word.

Soortgelyke plasings