|

Skietvoorval in Danville-parkie motiveer AfriForum om grassnyprojek aan te pak

’n Skietvoorval in die parkie in Jan Ellis-laan in Danville het AfriForum se Pretoria-Wes-tak genoop om die lang gras in dié parkie te sny, in ’n poging om misdadigers daar uit te hou. ’n Misdadiger het ’n veiligheidswag van ADT-sekuriteit op 21 Maart in ’n skietvoorval in die parkie gewond. Kort ná dié voorval het die tak, in samewerking met die gemeenskap, ’n grassnyprojek in die omgewing begin.

Die gemeenskap en inwoners van verskeie ouetehuise in Danville het oor die lang gras in Jan Ellis-laan se parkie gekla, nadat hulle nie meer deur die parkie kon stap kerk toe nie. Die lang gras het ’n skuilplek vir misdadigers geword, wat ’n gevaar vir die gemeenskap, veral die bejaardes, ingehou het. Altesaam 4 543 vierkante meter se gras is in hierdie parkie gesny.

Gedurende die aksie het die gemeenskap selfs iets om te eet en drink uit dankbaarheid aangedra.

“Daar is soveel boodskappe en oproepe uit die gemeenskap om dankie te sê dat alles weer so netjies lyk. Dit is vir ons ’n voorreg dat ons ’n verskil in die gemeenskap kon maak,” sê Francois Oberholzer, voorsitter van AfriForum se Pretoria-Wes-tak.

“Ons het nog baie gras wat gesny moet word om die omgewing weer veiliger te maak. Ons is tans besig om die parkie in Vrolike-lied Place in Elandspoort se gras te sny, maar die reën vertraag die projek ’n bietjie,” sluit Oberholzer af. Hierdie parkie se oppervlakte is 7 648 vierkante meter.

Die AfriForum-tak in Pretoria-Wes doen ’n beroep op inwoners, wat nog nie ’n lid is van AfriForum nie, om by die tak aan te sluit om dié woongebied weer veilig te maak. Kontak Oberholzer by 082 629 2093 om by die tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings