Só pak AfriForum-buurtspanne diensleweringsprobleme in Pretoria
Dienslewering het deur die jare al landwyd in verskeie dorpe en stede al hoe vinniger begin agteruitgaan. Eers was dit kleiner dorpe en hul munisipaliteite wat nie meer die diensleweringsmas kon opkom nie. Vandag is daar amper nie meer ’n plaaslike munisipaliteit of metro wat nie op die een of ander manier met diensleweringsprobleme worstel nie. Pretoria, wat as een van Suid-Afrika se hoofstede ’n baken vir die land moet wees, ondervind ook al hoe meer munisipale diensleweringsprobleme. Die Tshwane-metro kan bloot nie meer by alles uitkom nie en dit is juis hier waar AfriForum met sy buurtspanne ’n reuseverskil maak.
“Vrywilligers help en het ’n belangrike rol om in die gemeenskap te vervul, maar dit was vir ons belangrik om voltyds te werk, want ons stad is besig om teen ’n spoed te verval,” verduidelik André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.
Dié dringende behoefte aan ’n meer deurlopende en daaglikse benadering het dié tak laat besluit om eers net een permanente werker aan te stel om projekte in die tak se gebied aan te pak. Die resep is nou reeds so suksesvol dat daar nou – met die inkoop van lede en hul lidmaatskapbydrae – reeds 12 voltydse werknemers as deel van AfriForum se Centurion-buurtspan daagliks opknappingswerk doen.
Hierdie AfriForum-buurtspan is boonop toegerus om min of meer elke taak wat oor hul pad kom, te takel. ’n Trekker, grassnyers, bossiekappers en selfs ’n houtkerwer word aanwend om die omgewing netjies te hou. Voorts het die tak twee voertuie met sleepwaens om die span en hul toerusting te vervoer.
Hoewel oorgroeide gras ’n reuseuitdaging in Centurion is, en een wat De Bruyn as die buurtspan se “oorlog” bestempel, is dit nie naastenby die enigste take waarmee hulle hul dae vul nie. “Die span kan ook slaggate herstel, padmerkers verf en straatligte herstel,” beklemtoon hy. “Ons wil baie hard werk om die omgewing vir inwoners veiliger te maak.”
AfriForum beskik reeds oor vier buurtspanne in Pretoria. Benewens die Centurion-span, takel die Groter Moot- en die Noord van die Berg-buurtspanne sowel as die AfriForum-aksiespan, wat vanuit AfriForum se hoofkantoor werk, instandhoudingsprojekte in hul onderskeie gemeenskappe.
Dié buurtspanne het reeds in die eerste kwartaal van 2025 gewerk dat die stof staan en ’n totaal van meer as 196 ha gras gesny; 38 ton vullis opgetel en verwyder; 11 ton teer gebruik om slaggate te herstel; 26 parkies skoongemaak én 49 ton se vullis as deel van ’n grootskaalse herwinningsprojek verwerk.

Die buurtspanne word vanuit takfondse gefinansier. Dit wil sê ledebydraes betaal salarisse, toerusting, brandstof en so meer. Dít is volgens Sampie Steinberg, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek, ’n bewys dat die Tshwane-metro nie noodwendig ’n gebrek aan fondse het om hierdie dienste te lewer nie, maar eerder dat hulle nie oor die wil beskik om hierdie dienste met belastingbetalers se geld te lewer nie.
“Die versoeke om van die AfriForum-buurtspanne se dienste gebruik te maak, raak by die dag meer. Ongelukkig kan dié spanne nie oral uitkom nie, maar ons probeer hard om ons gemeenskappe na die beste van ons vermoëns te help,” sê Steinberg. Hy hou egter vol dat AfriForum opgewonde uitsien na die uitbreiding van hierdie unieke én suksesvolle gemeenskapsmodel.
AfriForumTV het pas ’n inligtingsvideo bekendgestel waarin De Bruyn en van die buurtspanlede oor die spanne se bedrywighede gesels. Klik hier om dié video te kyk.
Navrae oor AfriForum se buurtspanne kan direk aan die onderskeie spanne gerig word:
- AfriForum se Centurion-buurtspan: voorsitter.centurion@afriforumtak.co.za
- AfriForum se Groter Moot-buurtspan: voorsitter.grotermoot@afriforumtak.co.za of grotermoot@afriforumtak.co.za
- AfriForum se Noord van die Berg-buurtspan: Llewellynn.hemmens@afriforum.co.za of skakel Ebby van der Vyver by 084 026 9626
- AfriForum se Pretoria-aksiespan: Sampie.steinberg@afriforum.co.za of Llewellynn.hemmens@afriforum.co.za