AfriForum eis antwoorde oor Eskom-plan vir registrasie van sonkragstelsels
Sonkragstelsels wat huishoudings ten duurste installeer het om die ongerief van beurtkrag te verlig, is in die nuus met Eskom wat sonkragverbruikers wil dwing om hul stelsels te registreer. Terselfdertyd sinspeel die nutsmaatskappy daarop dat nie alle sonkraginstallasies tans aan die vereiste standaarde voldoen nie en dat eienaars dié stelsels sal moet opknap om te verseker dat Eskom se vereistes nagekom word – ’n proses wat huishoudings en ondernemings selfs meer geld uit die sak sal jaag.
In die lig hiervan het AfriForum nou ’n skrywe aan die kragvoorsiener gerig en eis antwoorde oor dié verreikende Eskom-plan.
Deidré Steffens, raadgewer vir plaaslike regeringsake by AfriForum, hou vol dat Eskom se planne egter nie deur die bank geïmplementeer kan word nie. “Eskom kan slegs voorskrifte van registrasie gee aan verbruikers wat direk van hom krag koop. Verbruikers wat dus krag deur ’n munisipaliteit aankoop, hoef nie by Eskom te registreer nie. Vir hierdie doeleindes moet elke munisipaliteit sy eie verordening promulgeer.”
Enigiemand wat self krag opwek, hetsy met ’n sonkragstelsel of enige ander manier van opwekking, en ’n direkte koppeling met Eskom het, sal egter moet registreer, verduidelik Steffens.
Die koste betrokke aan die registrasie word bepaal deur die opwekkingskapasiteit van die stelsel. Die registrasie van ’n stelsel wat byvoorbeeld minder as 350 kW opwek, sal R2 140,32 beloop, maar die bedrag word meer na gelang van die groter hoeveelheid krag wat opgewek word.
“Alhoewel dit belangrik is dat Eskom aansluitings moniteer, weet wat met die kragnetwerk aangaan en die netwerk in stand moet hou, kan hulle nie hoë registrasiefooie instel en van verbruikers verwag om oor duisende hekkies te spring voordat hulle aan Eskom se vereistes kan voldoen nie,” sê Steffens.
Volgens Steffens eis AfriForum antwoorde van Eskom oor die gronde van hul besluit om die registrasie van sonkragstelsels te implementeer, “want ons kan nie sien watter bestaande reëls hulle aanwend om die registrasies af te dwing nie”.
Eskom voer op sy beurt aan dat die registrasie van sonkragstelsels nie verbruikers onkant vang nie, aangesien ’n aankondiging oor dié voorvereiste reeds in 2020 gemaak is. Steffens stem nie saam met Eskom nie en hou vol dat die kragvoorsiener eers teen die einde van 2024 ’n daadwerklike poging aangewend het om verbruikers te kry om te registreer.
“Eskom het baie inkomste verloor met die groot aantal betalende kliënte wat alternatiewe planne gemaak het om krag op te wek en nou probeer hulle die verlore inkomste op ’n ander wyse te in,” sluit Steffens af.