|

Nuwe storielyn, ou bekendes in Vetkoekpaleis 3

Die gewilde program Vetkoekpaleis is in 2025 terug met ’n splinternuwe storielyn wat aanhangers met nuwe kwinkslae gaan laat skaterlag.

Alhoewel Vetkoekpaleis II heelwat nuwe kykers gelok het, was die terugvoer van ou kykers dat die storielyne baie ooreenstem. Daarom sê Pieter Esterhuizen, regisseur, het hulle die nuwe episodes vernuwe na 2024 toe met selfone en tegnologie. “Van die ouer kykers wat die storielyne goed ken, kan nou uitsien na nuwe inhoud.”

Kykers kan uitsien na al die ou karakters, maar kan ook verwag om vir Liane Heyl (Boeboe) te sien. Heyl gaan, volgens Willie Esterhuizen, vervaardiger en akteur, moeilikheid maak tussen hom en Molly (Lizz Meiring).

“Ek is altyd nuuskierig en opgewonde om te sien waarmee Willie vorendag kom. Wat hom so uniek maak is dat hy goeie vroue karakters skryf, hy verstaan hulle so sy karakters is genuanseerd,” sê Meiring.

Volgens Willie kan mense verwag om te lê van die lag as hulle die nuwe episodes kyk.

Vir hom is dit ’n absolute voorreg om oopkop te kan skryf. “Ons is verskriklik dankbaar vir die geleentheid, waar anders kan ons Afrikaanse televisie ongesensor doen?” sê Willie.

Die tien nuwe episodes word van 26 Februarie tot 29 Maart 2025 voor ’n vol gehoor in AfriForum Teater opgeneem. Mense kan die teater se webblad besoek om kaartjies te koop om deel van die gehoor te wees. Dié reeks sal dan ook later gratis op AfriForumTV beskikbaar wees.

Soortgelyke plasings