AfriForum maak Burgermonument by Magersfontein skoon voor Franse besoek
AfriForum se Kimberley-tak het die afgelope week die Burgermonument by Magersfontein skoongemaak en voorberei vir die Franse Militêre Attaché se besoek aan die terrein. Verteenwoordigers van die Franse Ministerie van die Gewapende Magte het op 16 April ’n kransleggingseremonie by dié monument gehou.
AfriForum se skoonmaakspan het enkele dae voor die besoek aan die geskiedkundige terrein, die gras om die monument en toegangspad skoongesny.
Die Franse Militêre Attaché het hulde gebring aan genl. George de Villebois-Mareuil, die Franse offisier wat tydens die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het en later by Boshof in die Vrystaat gesneuwel het. AfriForum het ook ’n krans by die generaal se graf gelê ter nagedagtenis van sy rol in dié deel van Suid-Afrika se geskiedenis.


“Dit is belangrik om geskiedenis vir toekomstige geslagte te bewaar, daarom is AfriForum daartoe verbind om met die instandhouding van die Burgermonument by Magersfontein voort te gaan,” sê Henko Visser, voorsitter van AfriForum se Kimberley-tak.
AfriForum se Kimberley-tak het vandeesmaand nuwe toerusting ontvang om dié terrein en vele ander gebiede in die gemeenskap beter te onderhou. ’n Nuwe Unicorn 750-grassnyer is aangeskaf en sal voortaan gebruik word om die monument, die omliggende terrein en verskeie ander openbare ruimtes in die gemeenskap in stand te hou.



