AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #3 (2010–2011)
AfriForum vier vandeesmaand sy 20ste bestaansjaar, en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2010: Julius Malema-hofsaak
AfriForum begin in 2010 met ’n rigtinggewende hofsaak teen die EFF-leier Julius Malema oor sy omstrede uitlatings en haatspraak. Die organisasie het onder meer ’n Stop Malema-protesoptog in Johannesburg gereël. Malema, toe nog president van die ANC Jeugliga, het twee dae voor die optog ’n vergadering met AfriForum Jeug aangevra. Hy het gevra dat die klagtes teen hom teruggetrek word, waarop Ernst Roets, destydse nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, geantwoord het dat hulle die klagtes sal terugtrek indien Malema onderneem om nie meer die “Kill the Boer”-lied te sing nie. Malema het egter geweier.

Teen die einde van die gesprek het Roets Malema daaraan herinner dat ’n protesoptog die volgende dag sou plaasvind en dat dit ’n goeie gebaar sou wees indien Malema se betogers die memorandum aanvaar. Malema het woedend geantwoord: “If you come to Luthuli House tomorrow, what happened to the IFP at Shell House is going to happen to you.” (Malema het hiermee verwys na die Shell House-massamoord, waartydens die lnkatha Vryheidsparty (IVP) op 28 Maart 1994 voor die ANC se hoofkantoor betoog het en waartydens die ANC op die betogers losgebrand en 19 mense doodgeskiet het.)
2011: Jeug stel wêreldrekord op vir l-a-a-angste boerewors
AfriForum Jeug het op Jeugdag (16 Junie 2011) in samewerking met die musiekgroep Saarkie, die sanger Thys die Bosveldklong en sewe boereverenigings van die Mookgophong (Naboomspruit)-omgewing ’n wêreldrekord opgestel vir die langste wors wat nog ooit gebraai is. Die 514,5 m lange wors is by die Windpompfees gebraai en het die braaier behoorlik laat kreun onder sy enorme 420 kg.



