| | | |

Kragtige teenboelieboodskap weerklink oor provinsiale grense heen

AfriForum het op 25 en 26 Februarie, as deel van die organisasie se nasionale Teenboelieveldtog, leerders van Moot Akademie in Pretoria en Suid-Natal Primêre Skool in Port Shepstone prakties en geestelik toegerus om boeliegedrag te herken, te hanteer én te bestry. 

Die inhoud van dié sessies was toegespits op graad R- tot graad 7-leerders en het ten doel gehad om leerders nie net bewus te maak van die verskillende vorme van boeliegedrag nie, maar ook om hulle te bemagtig om die Bybelse beginsels van God se wapenrusting prakties toe te pas.  Leerders het geleer hoe om die waardes van waarheid, geregtigheid, vrede en geloof as toerusting te gebruik om hulself teen boeliegedrag te beskerm en om boeliegedrag in hul daaglikse lewe, tuis en by die skool, hok te slaan.

Pam Nortjé van AfriForum se Margate-tak (agter tweede van links), Mari-Louise Erasmus, projekkoördineerder van AfriForum se onderwysprojekte (agter tweede van regs), Juan-Pierre Nel van AfriForum se Margate-tak (regs agter) en ’n groep leerders van Suid-Natal Primêre Skool.

“Die positiewe reaksie van leerders en onderwysers by beide skole bevestig hoe dringend en noodsaaklik hierdie boodskap is,” verduidelik Mari-Louise Erasmus, projekkoördineerder van AfriForum se onderwysprojekte.

“Ons het gesien hoe kinders nie net luister nie, maar werklik verstaan dat hulle waardevol is en die vermoë het om op te staan teen boeliegedrag. Dit is juis die doel van AfriForum se Teenboelieveldtog – om jongmense met kennis, moed en praktiese hulpmiddels toe te rus om ’n verskil in hul eie skole te maak.”

In ’n tyd waar boeliegedrag toenemend druk plaas op leerders se selfbeeld, akademiese prestasie en emosionele welstand, is dit noodsaaklik vir skole, ouers en gemeenskappe om hande te vat om ’n kultuur van respek en verantwoordelikheid te vestig.

AfriForum se Mari-Louise Erasmus tydens haar besoek aan Moot Akademie

Volgens Carel Krog, hoof van Suid-Natal Primêre Skool, speel inisiatiewe soos hierdie ’n groot rol in die bevordering van ’n veilige en ondersteunende skoolomgewing. Hy glo voorts dat die impak van dié aanbieding lank in ’n skoolgemeenskap sal voortleef.

AfriForum moedig skole landwyd aan om deel te word van hierdie inisiatief en saam te werk om boeliegedrag daadwerklik te takel.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole, stuur gerus ’n e-pos na onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf