Wat is Suid-Afrikanisasie?
Deur Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum
Die nuwe burgermeester van New York, Zohran Mamdani, het op 1 Januarie tydens sy intreerede na die ANC se Vryheidsmanifes verwys as inspirerend. Na aanleiding hiervan het party politieke kommentators begin verwys na die “Suid-Afrikanisasie” van New York. Dit bring ons by die vraag: Hoe lyk Suid-Afrikanisasie as beleidsraamwerk in praktyk?

Wat ’n mens Suid-Afrikanisasie kan noem, is ’n kombinasie van tendense waarvan party reeds in vele Westerse lande begin posvat. Eerstens word dit gekenmerk deur ’n samesmelting van regerende party en regering. Kaderontplooiing was vir 30 jaar lank die ANC se voertuig vir ononderbroke staatskaping. Dit het veroorsaak dat die skeidslyn tussen regering en regerende party toenemend vervaag het en verklaar hoekom sommige mense kritiek teen die ANC vertolk as kritiek teen die land, en hoe sekere kommentators bedreigings vir die ANC se mag sien as bedreigings vir Suid-Afrika.
Die tweede tendens is die voorkoms van gedwonge korrupsie. Die ondersoekende joernalis James Myburgh het al opgemerk dat die kern van korrupsie in Suid-Afrika nie gaan oor die feit dat dit goedgekeur word of voorheen goedgekeur is nie, “maar dat dit verpligtend is. Jy kan nie wettiglik sake doen met die staat of staatsbeheerde ondernemings sonder om in wese een of ander ANC-faksie te betrek nie.” Hierdie toestand van kleptokrasie, waar korrupsie so sistemies geword het dat ondernemings daarvoor begin begroot, vloei in Suid-Afrikanisering voort uit kaderontplooiing. Die ANC is nie in staat om korrupsie te beveg nie, want deur korrupsie aan te val, sou hulle hulself en hul bondgenote in die spervuur vasvang.
Die derde tendens wat Suid-Afrikanisering kenmerk, is die toenemende sentralisering van mag. Die ANC is in die greep van ’n onversadigbare dryfkrag om die mag, invloed, beheer en reikwydte van die regering voortdurend uit te brei. Dit is tog die verpligting wat hul Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR)-dogma stel en die ANC sal mag slegs prysgee wanneer howe dit afdwing of staatskapasiteit ineenstort.

Hierdie toenemende sentralisering van staatsbeheer manifesteer onder meer in die reuse- en uitbreidende maatskaplike toelaag-patronaatstelsel wat 50% van landsburgers afhanklik gemaak het van hierdie welvaart-industriële kompleks. Hierdie grootskaalse staatsafhanklikheid is nie onbedoeld nie, maar eerder so ontwerp. Die ANC het geen aansporing om armoede of werkloosheid te bekamp nie, want ’n afname in armoede en werkloosheid sal noodwendig minder staatsafhanklikheid tot gevolg hê. Hierdie afhanklikheid help op sy beurt om die ANC se greep op mag – veral gedurende die verkiesingseisoen – te versterk, en dit laat die NDR onverpoos voort marsjeer.
Die finale kenmerk van ’n land wat op ’n vaste Suid-Afrikanisering-trajek is, is die meedoënlose en fanatiese toewyding aan ’n rasagenda. Hierdie “transformasie-manie” vereis demografiese verteenwoordiging in elke faset van die samelewing – van korporatiewe direksieraadsale tot laerskoolrugbyspanne. Die ANC prioritiseer hierdie rasagenda bo byna enigiets, selfs bo basiese dienste soos ononderbroke elektrisiteitsvoorsiening.
Hierdie oorheersende rasagenda dien as morele vernis om die ander kenmerke van Suid-Afrikanisering te vergemaklik en te verdoesel. Onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging (SEB), verkry partylojaliste en vriende en familie van ANC-politici regeringstenders en posisies op korporatiewe rade. SEB en transformasie is ook die morele fasades wat ter verdediging van kaderontplooiing ingespan word.
Wanneer ’n mens die fundamentele boublokke van Suid-Afrikanisasie uiteensit, raak dit duidelik dat die nastrewe van hierdie beleidsraamwerk veel meer te doen het met mag as medelye. Dus is ek bevrees dat New York se inwoners maar moet begin afkyk en notas neem by organisasies soos AfriForum en die Solidariteit Beweging wat reeds vir dekades lank werk aan die teengif vir Suid-Afrikanisasie.



