Rand Water onder druk: Johannesburg- en Tshwane-metro skep veel meer as hul kwota, maar verbruikers moet plan maak
Deur Marthinus Koekemoer
Die damme wat die drie Gautengse metro’s voed, se vlakke lyk goed, tog verkeer Rand Water, wat water aan dié provinsie sowel as Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes voorsien, onder geweldige druk om aan die vraag na water te voldoen. Omtrent driekwart van Rand Water se watervoorraad aan die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s word deur die metro’s self vermors, maar tog word daar gereken dat verbruikers verantwoordelik is vir die hoë verbruik en daarom ook pa moet staan om die tekorte op te maak.
Die Johannesburg- en Tshwane-metro’s oorskry gereeld hul waterkwotas. En te midde van dié onvolhoubare tendens wys amptenare dikwels die vinger na verbruikers. Hulle word as die sondebokke uitgekryt en dan gereeld aangesê om water te bespaar sodat daar by Rand Water se kwotas gehou kan word. Die metro se wankelrige infrastruktuur wat stelselmatig die gees gee, is egter ’n veel groter probleem.
Daar is niks fout daarmee om verbruikers te vra om water te spaar nie. Suid-Afrika is immers ’n waterskaars land en groot gedeeltes van die land beleef telkens ernstige droogtes. As die damme egter vol is, lê die probleem waarskynlik nie by verbruikers nie. Anders gestel, dit is nie droogtetoestande wat tans tot die watertekorte in Gauteng gelei het nie. Dit is beslis nie ’n herhaling van Kaapstad se Dag Zero-scenario van ’n paar jaar gelede toe een van die ergste droogtes wat die land nog getref het tot lae damvlakke in die Wes-Kaap gelei het en krane daar amper leeggeloop het nie.
Verskeie Johannesburgers kan getuig dat droë krane niks met ’n droogte te make het nie en nog minder met verbruikers wat water vermors. Nee, die jongste syfers toon dat dit die metro is wat self die meeste water vermors. Bykans 45% van Johannesburg se drinkwater gaan verlore weens lekkasies en waterdiefstal. Meer as 40% van water wat in dié metro gebruik word, gaan boonop aan inwoners van Soweto, Alexandra, Orange Farm, Ivory Park en ander informele nedersettings waar onwettige waterkoppelings vir gratis water sorg.
Daar is boonop onlangs bekendgemaak dat die agterstand in die instandhouding van waterinfrastruktuur in Johannesburg meer as R26 miljard beloop. Die situasie is so beroerd dat die metro se burgemeester, Dada Moreno, en die uitvoerende hoof van Johannesburg Water, Ntshavheni Mukwevho, aan ’n spesiale parlementêre portefeuljekomitee moes verduidelik wat aan die gang is. Daar is ’n plan voorgelê wat onder meer daarop gemik is om die instandhoudingsagterstand in te haal, maar met watse geld?
Intussen beplan die Johannesburg-metro om hierdie somer vlak 1-waterbeperkings in te stel. Dit is die tipiese optrede van ’n regering wat nie meer antwoorde het nie en dan die verantwoordelikheid vir die probleme wat hulle self skep, aan ander oordra.
Die waterkrisis in die Tshwane-metro het nog nie die vlak van dié in Johannesburg bereik nie, maar droë krane in Pretoria is sekerlik ook aan die kom. Gemeet aan die stadsreinigingsheffing wat die Tshwane-metro onlangs probeer instel het om die begroting te laat klop, sal hierdie metro ook waarskynlik die verantwoordelikheid vir waterprobleme op verbruikers afskuif. Dit is natuurlik makliker as om wanbesteding, korrupsie en dergelike sake wat tot swak dienslewering en vervalle infrastruktuur lei, stop te sit.
- Koekemoer is ’n senior joernalis by AfriForum.