NUUSKOMMENTAAR: Charlie Kirk, vuurwapenbeheer en ’n kultuur van geweld
Deur Ilze Nieuwoudt
Te midde van uiteenlopende wêreldwye reaksie op die moord op die Amerikaanse aktivis Charlie Kirk verlede week, is die debat rakende strenger vuurwapenbeheer in die VSA ook weer plek-plek gevoer.
In ’n berig wat vroeër die week in die Britse dagblad The Guardian verskyn het, beweer die skrywer Ed Pilkington dat Kirk se moord, sowel as ’n skietvoorval by ’n skool in die Amerikaanse deelstaat Colorado op dieselfde dag, Amerika se oop geheim van vuurwapen-verwante geweld beklemtoon. Pilkington meen dat vuurwapens die instrument is wat aan die kern van Amerika se “oorvloedige bloedvergieting” lê.
Die linkse, pro-sosialistiese aanlyn politieke kommentator, Hasan Piker, het op sy beurt onder meer aangevoer dat nie sekuriteit óf ’n koeëlvaste baadjie Kirk se lewe sou kon red nie. In ’n sosialemediaplasing kort ná Kirk se dood het hy benadruk dat “redelike vuurwapenbeheer” die enigste ding is wat moontlik die aanval op Kirk kon verhoed het.
Strenger vuurwapenbeheer is egter – indien Suid-Afrika as voorbeeld gebruik word – duidelik nie die towerstaf wat moorde wat met vuurwapens gepleeg word, gaan uitwis nie. Inteendeel, statistiek toon dit duidelik dat Suid-Afrika se per 100 000-koers van vuurwapen-verwante moorde bykans dubbel dié van die VSA is. Volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is vuurwapens in tussen 12 000 en 16 000 moorde in 2023/2024 gebruik. Dit ten spyte van Suid-Afrika se veel strenger vuurwapenwetgewing.
In ’n onlangse parlementêre antwoord, het die minister van Polisie statistiek rakende die gebruik en konfiskering van onwettige vuurwapens blootgelê. Volgens dié inligting is net meer as 21 700 onwettige vuurwapens in die afgelope vyf jaar gekonfiskeer. Hiervan is meer as 6 800 vuurwapens verbind met moorde wat in dié tyd gepleeg is. Die gebruik van onwettige vuurwapens in moorde is volgens dié statistiek in veral KwaZulu-Natal algemeen waar nagenoeg 1 uit elke 2 gekonfiskeerde onwettige vuurwapens in moorde gebruik is.
Luidens amptelike misdaadstatistiek van die SAPD vir die derde kwartaal van 2024/2025 wat in Februarie uitgereik is, was meer as die helfte van alle moorde wat in dié tyd gepleeg is, vuurwapen-verwante moorde, streng vuurwapenwetgewing ten spyt.
Die probleem van ’n gewelddadige kultuur wat in Suid-Afrika én die VSA voorkom, kan daarom kwalik bloot voor die deur van vuurwapenregulering alleenlik gelê word. Intussen blyk dit dat daar pogings van die Suid-Afrikaanse regering is om wettige vuurwapenbesit te verminder en wettige vuurwapeneienaars as’t ware te ontwapen.
AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het juis onlangs kritiek gelewer op die bewerings van geheime gesprekke wat by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC) gevoer word met die oog op aanpassings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2000. Hieroor het hy aangevoer dat “dit blyk dat die regering vasberade is om wetsgehoorsame vuurwapeneienaars te ontwapen, terwyl die werklike probleem van onwettige vuurwapens opsy geskuif word. Die regering se eie Wits-verslag het aangedui dat wettige vuurwapeneienaars nie die probleem is nie, maar dit blyk dat hierdie feite ook ter wille van hul agenda geïgnoreer word.” Die sogenaamde Wits-verslag is in 2021 uitgereik. Dit is in opdrag van die Siviele Sekretariaat van Polisie deur die Universiteit van die Witwatersrand opgestel om die uitwerking van die genoemde Vuurwapenwet op misdaad vanaf 2000 tot 2014 te analiseer.
’n Artikel wat in 2024 in die vaktydskrif Aggression and Violent Behavior verskyn het, ondersoek die verwantskap tussen vuurwapeneienaarskap en vuurwapen-verwante geweld in die VSA en Switserland. Daarvolgens is Switserland ’n bewys daarvan dat hoë vlakke van vuurwapenbesit nie direk gekoppel kan word aan euwels soos moorde en massaskietvoorvalle nie. Bykomende motivering word vereis vir misdadigers met toegang tot vuurwapens om uiteindelik oor te gaan tot aksie en ’n vuurwapen-verwate misdaad – soos moord – te pleeg. Daarbenewens meen die navorsers moet daar onvoldoende regsbeperkinge wees om die optrede te verhoed.
Hulle gaan voort deur te sê – en hierdie is waarskynlik een van die belangrikste kwessies rakende vuurwapen-verwante misdaad in Suid-Afrika – dat die gebruik van vuurwapens vir selfverdediging in Switserland amper geheel en al afwesig is omdat inwoners daar nie voel dat hulle hulself enigsins moet beskerm nie. Die navorsers stel dit egter duidelik: “Hoe meer mense die regering en wetstoepassingsagentskappe vertrou om aan hul veiligheid te bied, hoe minder is hulle geneig om die wêreld as ’n gevaarlike plek te beskou en te glo dat vuurwapens nodig is vir hul beskerming.” In die geval van die VSA word verskeie redes vir die hoë voorkoms van moorde en massamoorde met vuurwapens voorgehou. Die vuurwapen-, maatskaplike en ekonomiese kultuur van ’n gemeenskap sal ook ’n rol speel.
Wat sê dit vir die moord op Charlie Kirk – die man wat in sy leeftyd sterk standpunt ingeneem het vir onder meer Amerikaners se reg om hul self te beskerm? Ja, ’n vuurwapen is in dié tragiese sluipmoord gebruik, maar nee, dit is nie net die blote toegang tot die wapen wat tot die 31-jarige se dood gelei het nie, maar eerder ’n gekweekte kultuur wat die gebruik van vuurwapens vir haatmisdade koester en vertroetel.