Weg met “Kill the Boer” op NWU-kampusse, eis AfriForum Jeug
AfriForum Jeug en studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus het gister protes aangeteken teen dié universiteit se stilswye en skynbare onwilligheid om die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op sy kampusse ondubbelsinnig en in die openbaar te veroordeel. As deel van die protesaksie is ’n petisie aan universiteitsbestuur oorhandig met meer as 6 000 handtekeninge ter ondersteuning van ’n verbod op die sing van dié dreunsang op NWU-kampusse.
Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, het die petisie aan dr. Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe op NWU se Potchefstroom-kampus, oorhandig. AfriForum Jeug-lede en NWU-studente het ook vandag hul steun aan die veldtog toegesê en ’n reusebanier met die woorde “Veroordeel ‘Kill the Boer’” onderteken.



Die protesaksie en eis om die veroordeling van die dreunsang volg nadat oproeriges op 5 Junie vanjaar “Kill the Boer” buite universiteitskoshuise op die NWU-Potchefstroom se Weskampus gedreunsing het. AfriForum Jeug het op 6 Junie ’n amptelike brief aan die universiteit se visekanselier, prof. Bismark Tyobeka, gerig om hom te versoek om op te tree en die dreunsang openlik te veroordeel.
In haar toespraak tydens die oorhandiging het Gerber daarop gewys dat AfriForum Jeug “glo in ’n universiteit waar elke student veilig, gerespekteer en vry is om te leer en te leef. Ons staan hier omdat ons weier om stil te bly wanneer geweld, vrees en haat op ons kampus ingevoer word”.
Volgens Gerber het AfriForum Jeug begrip daarvoor dat almal die reg op vryheid van spraak het, maar hou vol dat dié reg aan niemand volmag gee om haat te saai of geweld aan te hits nie. “Om ‘Kill the Boer’ te sing is nie bloot kultuur of uitdrukkings nie – dit is ’n direkte oproep tot geweld en dit is onaanvaarbaar,” het Gerber aan dr. Rheeder en studente wat die protesaksie bygewoon het gesê. “Ons staan nie vandag op vir ras of velkleur nie, maar vir die basiese beginsel dat ons kampus ’n veilige ruimte moet wees vir elke student; ’n plek waar elke student kan floreer sonder om te vrees dat hul menswaardigheid in die gedrang sal kom.”
Sedert die voorval plaasgevind het, het die universiteit slegs een algemene mediaverklaring op 6 Junie uitgereik en aangedui dat dit “bewus is van die insident wat na bewering dreunsang ingesluit het”. Die verklaring sê voorts dat die NWU “die aantasting of skending van menseregte, beleide en reëls in ’n ernstige lig beskou, en enige optrede of gedrag wat poog om sy [die NWU] se waardes te ondermyn, sterk afkeur”.
Volgens Gerber is dit egter teleurstellend dat die universiteit nie die “Kill the Boer”-dreunsang by die naam te noem nie en intussen ook nie daadwerklik teen die betrokke studente opgetree het of op AfriForum Jeug se amptelike versoek om die dreunsang te veroordeel gereageer het nie. “Die universiteit se gerieflike stilswye oor die saak is ontnugterend. Om nie die dreunsang in die besonder te veroordeel nie, beteken in werklikheid dat ’n dreunsang wat onbeskaamd vra vir die moord op ’n sekere deel van die bevolking, bloot aanvaar word. ’n Ondubbelsinnige standpunt van universiteitsbestuur hieroor is egter noodsaaklik,” verduidelik sy.
Luidens gerugte, wat nie amptelik bevestig kon word nie, is die betrokkenes bloot tydelik geskors weens sogenaamde luidrugtige optrede tydens die universiteit se toetstydperk. Die uitkoms van die universiteit se beloftes van ’n ondersoek na die voorval en dat die saak “ferm en in ooreenstemming met die toepaslike reëls en regulasies” hanteer sal word, is nie amptelik gekommunikeer nie. Daar is boonop ook nie enigsins terugvoer hieroor gegee aan AfriForum Jeug wat hom uit die staanspoor as ’n belanghebbende jeugorganisasie in dié saak geposisioneer het, nie.
“AfriForum Jeug se boodskap is duidelik: Die NWU kan nie volstaan met vae stellings nie. Hierdie dreunsang wek vrees, skep verdeeldheid en plaas studente se veiligheid in gevaar. Studente verdien ’n kampus waar hul menswaardigheid beskerm word en rassespanning nie geduld word nie,” sê Gerber.
AfriForum Jeug het met die protesaksie sy beroep aan NWU-bestuur herbevestig en eis dat die sing van “Kill the Boer” ondubbelsinnig veroordeel moet word; universiteitsbestuur die bevestiging moet gee dat die dreunsang indruis teen die studentegedragskode; en dat dissiplinêre stappe teen die betrokke studente ingestel word.
“Die universiteit het ’n morele plig om duidelik en ferm te wys dat haatspraak nie op ’n akademiese kampus geduld word nie. Stilte of vaagheid hieroor kom neer op aandadigheid,” het Gerber afgesluit.