| |

5 dinge wat jy van die geskiedkundige Washington Memorandum moet weet

Ilze Nieuwoudt

In ’n skuif wat waarskynlik die Suid-Afrikaanse regering blind van woede laat, het ’n viertal-afvaardiging van AfriForum, die Solidariteit Beweging en Solidariteit Dinsdag (25 Februarie) met senior verteenwoordigers van president Donald Trump se administrasie in die Withuis in Washington DC ontmoet. Hiertydens het die afvaardiging, gelei deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, ’n omvattende memorandum – bekend as die Washington Memorandum – aan verteenwoordigers oorhandig. Buys is vergesel deur Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by die Solidariteit Beweging.

Die Washington Memorandum is kortom daarop gemik om die Beweging se standpunte en aanbevelings aan die Trump-administrasie en ander belangrike rolspelers in die VSA voor te hou in die belang van Afrikaners in die besonder, maar ook Suid-Afrika in geheel. Aan die kern hiervan staan die versoek dat druk op ANC-leiers verskerp moet word en dat Suid-Afrika nie vir die roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land gestraf moet word nie.

Hier is die topvyf dinge wat jy moet weet van dié belangrike memorandum:

1. Die Washington Memorandum vra vir meer beleggersvriendelike buitelandse beleid

    Die Suid-Afrikaanse regering se vyandskap met die VSA se bondgenote, soos Israel en Taiwan, skep tans ernstige diplomatieke spanning. Daarom behoort druk op die ANC-leierskap verantwoordelik vir dié skadelike beleidsrigtings geplaas te word.

    2. Die Washington Memorandum vra vir beskerming van Afrikaners in Suid-Afrika

    Verskeie sake beïnvloed tans die Afrikanergemeenskap en maak dié kultuurgroep kwesbaar. Die voorkoms van plaasmoorde, grondgrype en diskriminerende rassewetgewing is elemente wat Afrikaners as ’n minderheidsgroep raak. Tog streef Afrikaners daarna om, ten spyte van dié sake, ’n vry, veilige en voorspoedige voortbestaan in Suid-Afrika te skep. Die Solidariteit Beweging vra in die lig hiervan dat daar onder meer druk op die ANC-regering geplaas moet word om plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar en die uitfasering van rassewetgewing te eis. Voorts word versoek dat hulpverlening aan ’n Afrikanerontwikkelingsfonds bewillig moet word.

    3. Die Washington Memorandum vra vir druk om nul-vergoedingsklousule in Onteieningswet te verwyder

    Die Onteieningswet hou ’n ernstige bedreiging in vir privaateiendomsbesit en maak nou vir die eerste keer voorsiening vir onteiening teen nul-vergoeding. Deur die memorandum word versoek dat druk op die Suid-Afrikaanse regering geplaas moet word om die nul-vergoedingsklousule uit die wet te verwyder en dat onderneem moet word dat die Grondwet nie gewysig sal word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.

    4. Die Washington Memorandum vra vir druk om die taal- en toelatingsbeleid in die Bela-wet te herroep

    Die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) wat verlede jaar onderteken is ontneem skoolbeheerliggame se reg om ’n skool se taal- en toelatingsbeleid te bepaal. Die toepassing van dié klousules in die wet hou verwoestende gevolge in vir die voortbestaan van Afrikaans as taal en die Afrikaanse kultuur. Die Solidariteit Beweging versoek dus die VSA om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om die betrokke bepalings in die wet te herroep.

    5. Die Washington Memorandum vra vir die beskerming van die Agoa-handelsooreenkoms

    Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is in belang van al die gewone mense, ondernemings en boere in die land. Die Solidariteit Beweging het daarom ’n beroep op die VSA gedoen om Suid-Afrika se insluiting in hierdie handelsooreenkoms voort te sit en strafmaatreëls in te stel teen ANC-leiers wat hul skuldig maak aan korrupsie of hulle by terreurorganisasies skaar.

    Volgens Kriel is AfriForum dankbaar vir die Trump-administrasie se erkenning van die krisisse waarmee Afrikaners worstel en die bereidwilligheid om dié kultuurgemeenskap by te staan. Hy benadruk ook dat die VSA se druk op ANC-leiers nou noodsaaklik is.

    “Ons vra dat daar nou baie sterk druk op ANC-leiers geplaas moet word, eerder as om gewone mense in die land te straf. Daar moet nou eerder gekyk word na individuele aksies of strafmaatreëls teen ANC-leiers eerder as wat daar weggestap word van Agoa. Dit moet uiteindelik die druk verhoog sodat die ANC-leiers afstand doen van die Bela-wet en die Onteieningswet en die uitfasering van rassewetgewing implementeer. Daar moet ook sterk opgetree word teen diegene wat hul skuldig maak aan haatspraak teenoor Afrikaners,” verduidelik Kriel in ’n video-boodskap vanuit die VSA. (Klik hier om die volledige boodskap te kyk.)

    Die Solidariteit Beweging se afvaardiging sal in die komende dae met nog politici en rolspelers in die VSA vergader. Hou AfriForum se sosiale media dop vir meer inligting soos wat meer besonderhede oor dié besoek ontvou.

    Soortgelyke plasings