16-jarige se gedig oor Afrikaans inspireer
Deur Ilze Nieuwoudt
In ’n wêreld waar sogenaamde “Mengels” (’n vermenging van Afrikaans en Engels) onder jong mense floreer, skud die ouer garde, taalpuriste en ander liefhebbers van Afrikaans dikwels net die kop en wonder wat die toekoms vir dié jong taal inhou. C.F. Visser, die man wat donkiejare gelede die nou nog geliefde liedjie “O, Boereplaas” geskryf het, het in dié einste lied verklaar: “O moedertaal, o soetste taal! Jou het ek lief bo alles.” Is dit nog waar vir ’n volgende generasie Afrikaanssprekende jongmense, kan ’n mens tereg vra.
Die kollig het lanklaas so intens op Afrikaans geskyn soos nou. Hierdie keer is dit nie vir die stryd om die behoud van die “soetste taal” of die geveg vir die behoud van Afrikaans in die klaskamers nie. Hierdie keer is daar ’n elektrisiteit wat die lug vul oor die 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is.
Sedert die afskop van Afrikaans se feesjaar, is daar wyd en syd gegons oor Afrikaans. Skrywers, sangers, akademici, politici en almal wat moontlik aan enige ci-groep behoort, het al iets te sê gehad oor die goed, die kwaad en alles tussenin van Afrikaans. Iewers tussen die geraas van gesprekvoering oor Afrikaans het ’n gedig getiteld “Die eeu van Die Taal” op die lessenaar van AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, beland.
Die skrywer van dié gedig, die 16-jarige Franco Gibbens, van Hoërskool Ermelo, het sy hand aan die pen gewaag om die “groot prestasie” van Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal te vier, en voorwaar sy hart klop behoorlik vuurwarm vir Afrikaans.
Sy gedig skets ’n prentjie van Afrikaans en die Afrikaanse leefwêreld waarmee oud én jonk vertroud is en wys op die manier waarop Afrikaans haar vastrapplek in elke dag se doen en late kry. Hy skryf oor Afrikaanse musiek, raak nostalgies oor Afrikaanse kinderverhale van ouds, vertel hoe Afrikaanse media ’n merk maak, skryf van die dinge wat so eie aan dié taalgemeenskap is – soos Ouma Rooi-koeksisters, boerewors en bakkies – en beskryf uiteindelik Afrikaans as ’n tuiste, ’n trots, ’n rots, liefde en erfenis. Volgens Gibbens is dit ook die taal van geloof wanneer hy, in waarskynlik die treffendste strofe, skryf:
Aande as die donker jou kom haal,
waar jy hard op jou knieë neerdaal.
En in jou moedertaal na die Here bid,
waar die kandelaar van sterre val en sit.
Bailey meen dit is goed om te sien dat jonger mense ook kreatief is in Afrikaans. “’n Mens waardeer dit dat jongmense wat die taal lief het, daarin dig en op daardie manier nog die taal lewendig hou,” verduidelik sy.
Oor waarom hy juis besluit het om hierdie “verjaarsdaggedig” vir Afrikaans te skryf, verduidelik Gibbens dat hy die herdenking van Afrikaans as amptelike taal eers “as net nog ’n jaar gesien het,” maar later die grootsheid daarvan besef het. “Ek het groter respek en liefde vir die taal gekry,” verduidelik hy. “Hierdie groter respek en liefde het my gemotiveer om ’n gedig te skryf om dié groot ‘prestasie’ te vier.”
Met die hulp van sy skoolmaat Oden Duvenhage het Gibbens die gedig aangepak. Wanneer Gibbens vasgebrand het, het hy en Duvenhage koppe bymekaar gesit om die regte woord vir die regte gedagte te kry. Soos Gibbens verduidelik: “As ek vasgehaak het by een gedagte, het hy die gedagte kleur gegee.”

En hoewel sy oorspronklike plan bloot was om die gedig op sosiale media te deel, het die gedig intussen – op aandrang van ’n familielid – sy weg tot by verskeie Afrikaanse organisasies, insluitende AfriForum, gevind.
Gibbens is ’n regte “kultuurdier” met deelname aan debatskompetisies, redenaars, tienertoneel, spelfeeste, skryfkompetisies en selfs die hoofrol in Hoërskool Ermelo se weergawe van die gewilde musiekrolprent Grease op sy kerfstok. Dis seker dan g’n wonder nie, dat wanneer die muse hom van tyd tot tyd behoorlik beetpak, woorde sal uitvloei. “Ek is mal daaroor om gedigte te skryf, want jy kan maklik ’n boodskap of gedagte oordra deur rym te gebruik,” verduidelik hy. Hy put meestal inspirasie uit ’n emosionele plek of ’n gebeurtenis wat hom geraak het en beklemtoon dat dit veral sy Afrikaanse onnies, ma en tannie is wat hom telkens aanmoedig om aan te hou skryf.
Dis juis in die skoolbanke waar Gibbens se liefde vir Afrikaans aangewakker is. “My Afrikaanse onderwysers het my oë oopgemaak vir die taal en hulle het, verbasend genoeg, by my ’n liefde vir die taal gekweek.” Sy liefde vir Afrikaans is groter as groot en, bieg hy, “al praat ek baie ‘Mengels’ is Afrikaans nog steeds my huistaal en my onderrigtaal”.
Intussen droom dié aspirantskrywer van groot dinge – ’n boek of twee en draaiboeke vir kortfilms is reeds in sy visier. Intussen lê die laaste jaar of wat van hoërskool nog voor. En dan? Sy kop staan Regte of Drama se kant toe. Hoe die pad ook al mag loop, Gibbens is duidelik dat hy nie sommer sy pen sal neerlê nie en sal aanhou om in sy moedertaal – die taal wat die siel bekoor – te skryf.
Volg Gibbens gerus op Instagram: @francogibbens.
Die eeu van Die Taal
deur Franco Gibbens
Van vroegoggend tot laat,
hier vind ons altyd baat.
Van môre tot koebaai,
die taal is so fraai.
*
100 jaar getel,
sonder teleurstel.
Van “Sewe sakke sout” se sleep,
tot die “Rooi Ribbok ram” se greep.
*
Bettie se bekkie wat al te veel babbel,
en Haasdas se Nuuskas wat altyd so krabbel.
Laurika se “Groete vir Mannetjies Roux”,
en almal se babas wat moet doedoe.
*
Van biltong, bliksem, boerewors en bakkie,
tot rerig, rondomtalie en die raserige brakkie.
Koeksister, karring, kondensmelk en koek,
Braai en baljaar in ‘n Boerboel-broek.
*
Mamma en pappa wat liefde dra,
en oupa en ouma se voortrekker-dae.
Soggens se mis en warm sonstrale,
tot lang stories en die ou volksverhale.
*
Kampe en moerkoffie met boerebeskuit,
daaroor voel ons nooit al ewe te spyt.
Samesyn en kuiers wa’so lekker is,
dis die dinge wat ons nooit sal mis.
*
Van Tafelberg se wit wolkkombers,
Tot Psalms se mooi digters-vers.
Van lip lek lekker konfyt,
tot Ouma se lekker beskuit.
*
Die Voortrekkermonument se prag,
en Die Taalmonument se krag.
Vrouemonument so skerp,
en Paul Kruger se werk.
*
Die kinders se “Asseblief” en “Dankie”,
en pouses se kuiers op die bankie.
Groet met die hand by die oom,
en ‘n drukkie vir die tannie by die boom.
*
Aande as die donker jou kom haal,
waar jy hard op jou knieë neerdaal.
En in jou moedertaal na die Here bid,
waar die kandelaar van sterre val en sit.
*
Tye waar Kaptein weer die seile span,
met Jan-Pierewiet se koffie klaar in die kan.
Waar jy Ballades vir ‘n enkeling skryf,
met die Blouballon wat wegdryf.
*
Dink oor Eendag as ons groot is,
saam die Reisiger langs die kus.
Waar jy saam jou Baby Tjoklits sit,
en vir Halley se Komeet hoop en bid.
*
Lees op Maroela Media oor al die drama,
en almal se Tienertoneel vol trauma.
ATKV met nuwe kompetisies en pryse,
met FAK aan hul sy vol al die wyse.
*
RSG se geklets en ateljee kuiers,
en PretoriaFM se vermaak vir kruiers.
GrootFM wat groot gaan met die musiek,
met OFM vol vermaak vir die publiek.
*
Beeld wat kraakvars nuus vir jou bied,
Huisgenoot wat die nuus na jou skiet.
Sarie vol vermaak vir al die vrouens,
Weg! met die lekker wenke vir die ouens.
*
Soos die Afrikaanse periode vinnig stop,
of ons wat ons monde vol Ouma Rooi prop.
Moet die lekker dinge tot ‘n einde kom,
maar nie Afrikaans nie!
*
Dis ons tuiste,
Ons trots,
Ons rots,
Ons liefde,
En ons Erfenis
Maar bo alles ONS TAAL.
*
Van vroegoggend tot laat,
hier vind ons altyd baat.
Van môre tot koebaai,
die taal is so fraai.
*
Gelukkige 100 Afrikaans