“100 jaar sterker”-lied vier Afrikaans met mening
Daar was wêreldse magte wat ons sou wou stilmaak
Daar is hoop en geloof uit die stemme gedoof
Afrikaans is ’n 100 jaar sterker
En ons sal nooit weer terugtree nie
As dit in een woord opgesom moes word, is dit eenvoudig “patrioties”.
Só beskryf Marina Wiese, hoof van AfriForumTV, die nuwe musiekvideo en liedjie “100 jaar sterker” wat vandag deur dié gratis Afrikaanse stromingsdiens vrygestel is. AfriForumTV deel met die bekendstelling van dié musiekvideo nie net in vandeesweek se viering van 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal nie, maar skop ook hiermee sy opwindende projek “Die beste dinge in die lewe is gratis!” af.
Deur dié projek sal AfriForumTV liefhebbers van Afrikaans herinner aan alles wat nog gratis en verniet geniet kan word – insluitende topgehalte Afrikaanse kykgenot.
“100 jaar sterker”, uit die pen van die Pretorianer Jabus Steenkamp, vier Afrikaans ook met mening en sal kykers vul met ’n diepe trots én ’n tikkie nostalgie vir dié jong en dinamiese taal. Steenkamp, as sanger beter bekend as Jakes, is ’n onderwyser van beroep wat met dié liedjie sy liefde vir Afrikaans eers op papier en toe in die musieknote uitgestort het.
“Afrikaans is nie net ’n taal nie,” beklemtoon Jakes. “Dit is ’n kultuur en ’n leefwyse. Dit is ’n taal wat mense intrek en deel maak.”
Die liedjie is in samewerking met PJ Cruz (verhoognaam van PJ Nel) getoonset en dié duo het met die platemaatskappy Harmony House Records en AfriForumTV kragte saamgesnoer vir die opname van dié lied en die musiekvideo daarvan.
In aanloop tot die groot dag waarop Afrikaans vandeesmaand sy eerste 100 jaar as amptelike landstaal sou vier, het Jakes AfriForumTV aan die einde van 2024 genader en die woorde van sy nuwe liedjie voorgelê. Die openingstrofe het die kreatiewe span van AfriForumTV reeds oortuig dat hierdie woorde nie net in liedjievorm bewaar moet word nie, maar ook aan die hande van Afrikaanse filmkenners, in ’n musiekvideo omskep moet word. Dié strofe met sy minder as 30 woorde beskryf as’t ware die voor- en teëspoed wat Afrikaans en die mense wat dié taal praat, al deur die jare langs ’n kronkelpad moes stap: “Ons taal het gely, het gestry. Deur die storm van tyd, deur die pyn. In hartseer ons mense, oor ons land se grense het Afrikaans sterk gebly.”
“Ek het die liedjie wat in my hart geresoneer het, in November verlede jaar geskryf,” verduidelik Jakes. Hierna het hy PJ by die projek betrek.
Vir PJ is Afrikaans nie net ’n taal nie. “Dit is alles!” beklemtoon hy, en die vonk wat Jakes in hom oor die lied geskep het, het kort voor lank “’n droom geword wat vlam gevat het”.
Ná ’n pad van wat Jakes beskryf as “skaaf en skuurwerk”, het die lied vorm aangeneem en is dit vroeër vanjaar uiteindelik ateljee toe. Die musiekvideo is, heel gepas, onlangs duskant die Voortrekkermonument, by Fort Schanskop, opgeneem. Hier, aan die buitewyke van Pretoria, eggo dié woorde van “100 jaar sterker” nou ook luid:
Met elke woord en elke stem
hoor jy die klop van ons vryheid:
Afrikaans is ’n 100 jaar sterker!
En ons sal skree en opkyk,
in ons taal sal ons groot berge versit.
Afrikaans ons trots, jy is ons erfenis!
“100 jaar sterker” is NOU beskikbaar YouTube.