10 redes waarom moedertaalonderrig koning kraai
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat skole opedae hou om die graad R’e, eens en agts van 2026 en hulle ouers te oortuig dat hulle die beste onderrigopsies bied. Daar word uitgehang met elke instelling se fasiliteite en prestasies op akademiese, kulturele en sportgebied. Faktore wat in ag geneem word, strek van die etos van die skool tot hoe besig die verkeer daarheen en daarvandaan in spitstye is!
Van alles is die belangrikste twee kwessies egter of die skool funksioneel is en of jou kind voltyds moedertaalonderrig daar sal geniet.
Met funksioneel bedoel ons of die onderwysers en leerders gesonde dissipline handhaaf, hoe die verskillende grade se slaagsyfers en uitvalkoerse lyk, asook of daar vakke en onderrigmetodes is wat strook met jou kind se behoeftes. Nog ’n kwessie wat deesdae ongelukkig uiters belangrik is, is die veiligheid van kinders by die skool. Die omgewing waar dit geleë is en maatreëls wat ingestel is om die skool, personeel en leerders teen misdaad te beskerm, moet in ag geneem word. Skole met personeel wat sterk leierskapseienskappe toon en betrokke ouergemeenskappe het, floreer. Nie alleen getuig die prestasies wat behaal word hiervan nie, maar selfs ook die toestand van die terrein, geboue en badkamers.
Wat moedertaalonderrig betref, is al so baie gesê oor die voordele daarvan. Tog kies Afrikaanse ouers soms steeds Engelse skole vir hulle kinders onder die wanindruk dat dit hulle beter vir hulle toekoms binne of buite die land gaan voorberei.
Hier is tien belangrike redes waarom onderrig wat jy vir so lank as moontlik in jou moedertaal kry, beter is. Mense wat moedertaalonderrig ontvang, sal:
- op die lange duur akademies beter presteer;
- abstrakte begrippe in vakke soos wetenskap en wiskunde makliker en beter verstaan;
- minder geneig wees om skool te verlaat voordat hulle matriek geslaag het;
- waarskynlik meer naskoolse kwalifikasies behaal;
- loopbane volg waarin hulle meer sukses behaal;
- meer tale makliker aanleer;
- meer omgee vir hulle gesinne, gemeenskap en land;
- hulleself duideliker kan uitdruk en meer oortuigend kan argumenteer in enige taal wat hulle goed ken;
- meer selfvertroue ontwikkel en minder geneig wees om depressie te ontwikkel; en
- gemiddeld meer gesond wees en langer leef!
Al hierdie feite is gebaseer op nasionale en internasionale wetenskaplike navorsing. Vreemd genoeg was dit enkele dekades gelede geen geheim onder Afrikaanssprekendes nie. Feitlik elke Afrikaanssprekende bo vyftig ken een of meer mense wat saam met hulle op skool of universiteit by eentalige Afrikaanse instellings was en vandag in vele lande oor die aarde heen presteer in ander tale.
Ons mag nie toelaat dat misplaaste skuldgevoelens oor die verlede en ideologies-gedrewe politici se argumente teen eentalige Afrikaanse onderrig ons aandag van die bogenoemde voordele aflei nie.
Ter wille van die beste geleenthede vir jou kind en sy of haar fisieke en geestelike welstand, moet die eerste keuse ten gunste van moedertaalonderrig wees. Dalk het die Engelse skool beter sportfasiliteite of ’n uithaler musieksentrum, maar sport en kultuur kan buitemuurs opgevang word. ’n Kind het (met graad R ingesluit) net dertien jaar op skool waartydens al die aspekte wat genoem is, gevorm kan word. Dit kan nie daarna weer ingehaal word nie – daarom behoort die keuse ten gunste van Afrikaanse moedertaalonderrig vir elke Afrikaanse ouer van deurslaggewende belang te wees.